Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
Gebrek aan vervolging kwel Mashaba
Herman Mashaba Foto: Gallo Images

Duisende korrupsiesake waardeur die Johannesburgse metroraad R24 miljard verloor het voordat Herman Mashaba die uitvoerende burgemeester van die metro geword het, is tot dusver ondersoek.

Mashaba het Dinsdag met genl. Godfrey Lebeya, nasionale hoof van die Valke, vergader.

Mashaba het Woensdag in ’n verklaring gesê die doel van die vergadering was om ’n aantal ernstige strafregtelike kwessies onder Lebeya se aandag te bring, en om sy kommer uit te spreek daaroor dat die strafregstelsel misluk daarin om te verseker dat die “verwoede korrupsie” wat in die metroraad blootgelê is, tot skuldigbevinding in strafsake lei.

Dit nadat die metroraad se groep- forensiese en ondersoekdienste reeds meer as 4 000 sake van korrupsie, bedrog en diefstal ondersoek het.

“Sedert die begin van 2016 het dié eenheid meer as 100 forensiese ondersoeke waarin ernstige misdaad blootgelê is, voltooi. Ondanks die stad se pogings om hierdie verrotting bloot te lê en te beëindig, lei strafsake wat deur die metroraad by die polisie aanhangig gemaak word nie tot vervolging nie,” sê Mashaba.

Een van die sake is die mislukte breëbandnetwerk-projek van R1,7 miljard vir Johannesburg. Mashaba sê sekere nasionale kabinetsministers het ten bedrae van miljoene rande voordeel hieruit getrek.

Teen 2015 het Regiments reeds sowat R300 miljoen aan fooie ontvang.

“Vandag, drie jaar later, word dié nie-operasionele netwerk op slegs R600 miljoen gewaardeer. Aangesien hierdie projek ’n multinasionale maatskappy op die New Yorkse aandelebeurs ingesluit het, het ek hierdie aangeleentheid ook by die VSA se departement van justisie aangemeld,” sê Mashaba.

Hy glo dat dié saak ’n uitstekende geleentheid bied vir samewerking tussen die owerhede van Suid-Afrika en die VSA om korrupsie tussen die twee lande te bestry.

Nog so ’n saak is die beweerde korrupte verhouding tussen Regiments Fund Managers, ’n voormalige burgemeesterskomiteelid vir finansies in die metroraad en Geoff Makhubo, leier van die ANC in Johannesburg.

In 2006 het Regiments ’n kontrak ontvang om die metroraad se fonds vir toekomstige skulddelgings te bestuur. ’n Poel ten bedrae van miljarde rande is hiervoor opsygesit.

Teen 2015 het Regiments reeds sowat R300 miljoen aan fooie ontvang. Makhubo het 10% daarvan vir sy maatskappy, Molelwane Consulting, gekry in ruil vir sy “instandhouding van die strategiese verhoudings met die metroraad”.

Mashaba sê dat hy aan adv. Shamila Batohi, nuwe nasionale direkteur van nasionale vervolgings, geskryf het oor sekere sake wat die nasionale vervolgingsgesag geweier het om op te vervolg.

Meer oor:  Herman Mashaba  |  Sa  |  Vervolging  |  Korrupsie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.