Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
Gee gou ons miljoene, eis partye wat spiere wys

Kleiner partye wat voordeel kan trek uit die nuwe formule in die Wet op Partyfinansiering dring aan dat dit so gou moontlik toegepas word.

Pres. Cyril Ramaphosa het die wetsontwerp reeds op 23 Januarie onderteken, maar in die Staatskoerant van 12 April word die bedrae vir die begrotingsjaar tot einde Maart 2020 steeds volgens die ou formule bereken.

Dit word ook steeds verdeel volgens die ou formule van 10% (gelykop tussen die partye) en 90% proporsioneel, volgens partysteun.

Dr. Corné Mulder, senior VF Plus-LP, het gister gesê die nuwe wet moet so gou moontlik geïmplementeer word.

Die kleiner partye kan altesaam R21,5 miljoen verloor wat aan die groter partye gegee sal word indien die wet vir ’n jaar lank nog volgens die ou formule toegepas word.

“Daar is geen manier waarop ons die Verkiesingskommissie (OVK) gaan toelaat om dit te doen nie,” het hy gesê.

Die nuwe wet bevoordeel die kleiner partye omdat die formule vir die toewysing van geld verander het en twee derdes nou proporsioneel verdeel word pleks van die vorige 90%, wat die ANC grootliks bevoordeel het.

Die ander derde word gelykop tussen die partye verdeel.

Mulder sê die partye moes ingevolge die bestaande praktyk op 18 April reeds ’n kwartaallikse betaling ontvang het.

“Dit sou volgens die nuwe formule gewees het, op grond van die stand voor die verkiesing. Die OVK het toe skielik self besluit hulle doen dit nie en hou dit terug tot ná die verkiesing.

“So, niemand het daardie betaling gekry nie en dit moet dadelik gedoen word.”

Genl. Bantu Holomisa, UDM-leier, het ook Vrydag gesê indien die ou formule steeds gebruik word, moet die OVK verduidelik, “want die wet is onderteken”.

Die OVK het egter nie op navrae gereageer nie.

Die ANC stuur 19 minder LP’s parlement toe en die DA vier. In die provinsiale wetgewers is albei partye se verteenwoordigers ook minder.

Die ANC se geldelike verlies vir die huidige termyn beloop ingevolge die nuwe formule meer as R14,8 miljoen en die DA s’n meer as R1,4 miljoen.

Die ANC het vir die vorige termyn R83,6miljoen ontvang, gegrond op die getal lede in die parlement en die wetgewers. Die DA het R30,5 miljoen gekry.

Volgens die nuwe formule sal die twee partye nou onderskeidelik sowat R69 miljoen en R29 miljoen ontvang, gegrond op ’n begroting van R158 miljoen vir die 15 partye.

Die EFF en VF Plus is die grootste wenners.

Die EFF ontvang nou byna R19 miljoen (teenoor R11,4 miljoen in die vorige termyn) en die VF Plus sowat R9 miljoen (teenoor R2,1 miljoen).

Meer oor:  Verkiesing 2019
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.