Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
‘Gee my die brief,’ sê Cyril aan Mmusi in parlement

Pres. Cyril Ramaphosa het uit vorige ondervinding geleer om nie oorhaastig te wees om vrae in die Nasionale Vergadering te beantwoord nie.

Dít was Donderdag duidelik toe hy deur Mmusi Maimane, DA-leier, uitgevra is oor of hy bewus is van skenkings van die omstrede dienstemaatskappy, Bosasa, aan die ANC.

cyril ramaphosa
Pres. Cyril Ramaphosa, Donderdag tydens sy toespraak in die parlement. Foto: Jaco Marais

Ramaphosa is in November 2018 deur Maimane gevra of hy bewus is van ’n skenking van R500 000 van Bosasa aan sy seun, Andile.

Ramaphosa het tóé geantwoord dat hy weet dat Andile konsultasiewerk vir dié maatskappy doen. Tien dae later het hy egter aan die speaker van die NV geskryf en haar ingelig dat dié geld inderwaarheid deur Bosasa aan sy interne veldtog geskenk is om in 2017 ANC-president te word.

Maimane het Ramaphosa Donderdag uitgevra oor ’n brief waarin die ANC vir Bosasa bedank vir ’n skenking van R3 miljoen. Hy wou weet of die ANC al die geld wat Bosasa die afgelope 15 jaar geskenk het, aan die fiskus sal terugbetaal omdat dié geld “uit die opbrengste van korrupsie” kom.

Afskrifte van die brief is terstond deur DA-amptenare onder joernaliste in die persgalery van die NV versprei.

In dié brief, onderteken deur dr. Zweli Mkhize, voormalige ANC tesourier-generaal, gedateer 31 Maart 2014 en op ’n ANC-briefhoof, gee die party erkenning aan die skenking.

Ramaphosa het in sy antwoord gesê een van die opmerkings wat adv. Busisiwe Mkhwebane, openbare beskermer (OB), in haar verslag teen hom gemaak het, was dat toe Maimane vroeër ’n soortgelyke “truuk” gespeel het, hy vir ’n afskrif van die brief moes gevra het en gesê het dat hy daaroor wou nadink.

“Sy het gesê dit is wat ek moes gedoen het. Ek en sy verskil oor die slotsom (van haar verslag), maar in dié geval wil ek haar raad volg. Ek sê aan agbare Maimane, gee asseblief vir my daardie brief en ek sal daaroor nadink,” het hy onder ’n luide geruis gesê.

John Steenhuisen, DA-hoofsweep, het grappenderwys gesê die brief is net twee sinne lank en die DA is bereid om te wag terwyl hy dit lees, maar Thandi Modise, speaker, het dit nie toegelaat nie.

Ramaphosa het onderneem om in ’n later stadium ’n antwoord aan Maimane te gee.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.