Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
‘Gee terug wat julle gesteel het,’ waarsku Cyril

“Pay back the money.” Dit was Sondag pres. Cyril Ramaphosa se waarskuwing aan diegene wat die staatskas oor die afgelope tien jaar geplunder het.

Die president het ’n gemeenskap in Oos-Londen toegespreek en gesê die ANC op nasionale vlak werk hard daaraan om dit wat oor die afgelope tien jaar skeefgeloop het reg te stel.

“Ons gaan dié wat geld gesteel het, vastrek en soek die geld terug. Ons wil dinge regstel sodat ons mense werk het,” het hy gesê.

Sy besoek is deel van die ANC se landwye Thuma Mina-veldtog en hy is deur lede van die ANC se nasionale uitvoerende komitee (NUK), onder andere Collen Maine en Nathi Mthethwa, vergesel.

Ons besoek die Oos-Kaapse streke om uit te vind wat die mense pla.

Die president het verskeie beloftes gemaak ten tyde van sy besoek aan die Duncan Village-township en gesê hy is nie tevrede met inwoners se lewensomstandighede nie. Hy het die gemeenskap die versekering gegee dat dinge gaan verander en hulle belowe dat, sou hulle vir die ANC stem, hulle huise en beter infrastruktuur sal kry.

“Ek sien in watter omstandighede julle leef, en dit staan my nie aan nie. Dis vir my sleg om te sien dat ons mense steeds in armoede leef. Ons moet dit regstel sodat julle huise, water, elektrisiteit en basiese dienste het en nie vir altyd in plakkershutte woon nie.”

Ramaphosa het gesê die ANC is lief vir sy mense en wil voortgaan om ’n diens te lewer.

Ná die vergadering in Duncan Village het die president joernaliste toegespreek oor die kwessie in Nelson Mandelabaai. Volgens hom gaan die ANC se nasionale werkkomitee Maandag vergader om die binnegevegte in die party in die Oos-Kaap te bespreek.

“Dis hoekom ons hier is. Daarom reis ons oor die land heen om die kwessies en uitdagings te pak, maar ook om die geleenthede wat daar vir die ANC is, aan te gryp.

“Ons besoek die Oos-Kaapse streke om uit te vind wat die mense pla.”

Nelson Mandelabaai se streeks- uitvoerende komitee is in Oktober deur die provinsiale leierskap ontbind nadat die streek nie die 70%-drumpel van funksionele ANC-takke kon bereik nie.

Meer oor:  Pres. Cyril Ramaphosa  |  Oos-Kaap
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.