Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
Geen gerustheid oor grondonteiening ná rede – AgriSA

Al het pres. Cyril Ramaphosa nie in sy staatsrede na onteiening sonder vergoeding verwys nie, kan mense nie gerus wees oor die risiko’s daarvan nie.

AgriSA het Vrydag dié mening gehuldig in reaksie op Ramaphosa se staatsrede, waarin hy onder meer die landboubedryf geïdentifiseer het as een van die produktiewe sektore wat uitgebrei en waarin nuwe lewe geblaas gaan word sodat die land sy groeiteikens kan bereik.

Ander organisasies het ook gewys op die gebrek aan sekerheid rondom Suid-Afrika se grondhervormingsbeleid wat deur dié weglating in Ramaphosa se toespraak geskep word.

Omri van Zyl, uitvoerende direkteur van AgriSA, het in ’n verklaring gesê die staatsrede bevat ’n “paar blink planne” maar die daadwerklike toepassing daarvan is nodig om die ekonomie om te draai.

“Soms is dit meer oor wat nie gesê is nie – dit is opmerklik dat onteiening sonder vergoeding nie genoem is nie. Ons kan nie gerus wees oor die risiko van onteiening sonder vergoeding nie, maar die bewusmaking van burgerlike samelewing en AgriSA het tot beter begrip gelei,” lui die verklaring.

AgriSA sal voortgaan om praktiese oplossings tot die “dringende kwessie” van grondhervorming voor te stel.

Ook die Instituut van Rasseverhoudinge het in sy reaksie op die staatsrede na onder meer grondhervorming verwys. “Die president se mislukking om selfs melding te maak van onteiening sonder vergoeding – ’n beleid wat hy in die verlede gesteun het – laat beleggers wat op duidelikheid gehoop het met geen groter duidelikheid nie. Die beleid is op pad, maar sy bepalings bly ondeursigtig. Anders gestel, net genoeg duidelikheid om belegging af te skrik, nie genoeg om rondom dit te beplan nie. Beleggers sal waarskynlik voortgaan om te wag en te kyk.”

Omri van Zyl, uitvoerende hoof van Agri SA.Foto:
Omri van Zyl, uitvoerende hoof van Agri SA. Foto: Gallo Images

Die landbousakekamer, Agbiz, het op sy beurt in ’n verklaring gesê dit is “verfrissend” om te hoor dat Ramaphosa hom herverbind het daartoe om ekonomiese groei aan die voorpunt van die nuwe administrasie se agenda te plaas asook die hernude klem op die toepassing van die Nasionale Ontwikkelingsplan (Nop).

Agbiz is bemoedig deur die president se “pragmatisme” ten opsigte van die hedendaagse kwessies wat die landbousektor raak soos klimaatsverandering en –aanpassing, water-infrastruktuur en die groeiende pas van tegnologie – faktore wat die groei en mededingendheid van die land se landbousektor in wêreldmarkte kan raak.

“Terwyl ’n verhoogde fokus op dié kwessies aangemoedig word, bly die gebrek aan duidelikheid ten opsigte van die grondhervormingsraamwerk ’n bekommernis vir Suid-Afrikaanse landbousake-ondernemings.”

Ramaphosa het in sy toespraak gesê die landbou en die landbouverwerkingsektor sal aansienlik uitgebrei word deur sleutelwaardekettings en produkte te ondersteun, nuwe markte te ontwikkel en steun op landbou-invoer te verminder.

Volgens hom vereis versnelde ekonomiese groei versnelde grondhervorming in landelike en stedelike gebiede asook ’n duidelike regime oor eiendomsreg.

Met verwysing na die presidensiële adviespaneel se verslag oor grondhervorming wat hy verlede week in ontvangs geneem het, het Ramaphosa gesê die paneel se aanbevelings sal die afhandeling van ’n omvattende, verreikende en transformerende grondhervormingsprogram inlig.

Pogings gaan aangewend word om openbare grond wat gepas is vir stedelike nedersettings asook landbou te identifiseer en beskikbaar te stel.

Meer oor:  Omri Van Zyl  |  Agrisa  |  Grondonteiening  |  Staatsrede 2019
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.