Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
‘Geen komplot teen swart DA’s’
Bonginkosi Madikizela, Wes-Kaapse leier van die DA. Foto:Marzahn Botha

Daar bestaan geen “komplot” om van swart leiers in die DA ontslae te raak nie, sê swart DA-leiers.

Die bedanking van die Gautengse DA-leier, John Moodey, die party se nuwe beleid van nierassigheid en ondersoeke deur die party se federale regskommissie na vier swart provinsiale DA-leiers is die afgelope tien dae in mediaberigte as bewyse van só ’n komplot voorgehou.

Swart DA-leiers, selfs dié wat ondersoek word, verwerp dit egter en sê hulle is en bly in die DA omdat hulle met die party se waardes saamstem.

Andrew Louw, DA-leier in die Noord-Kaap, het Vrydag aan Rapport gesê swart leiers wat die DA verlaat, doen dit uit vrye keuse. Hy is een van dié wat deur die federale regskommissie ondersoek word.

“As wit lede loop, sê niemand dat daar ’n rassistiese komplot teen wit leiers is nie. So, dit is beledigend vir my om te sien hoe baie mense kies om hierdie lede se vertrek as enigiets anders as die uitoefening van hul vrye wil te sien. Ons is nie per toeval in die DA nie, maar deur ons eie besluite. Ons is gekies vir ons vermoëns, nie ons velkleur nie.”

Ek stem nie saam met die sentiment wat in sekere koerante uitgedruk word dat daar ’n komplot teen swart leiers in die DA is nie. Dit is nie waar nie.

Nog ’n “geteikende” provinsiale leier is Mpumalanga se Jane Sithole, wat glo ondersoek word weens die beweerde wanbesteding van verkiesingsgeld.

“Ek stem nie saam met die sentiment wat in sekere koerante uitgedruk word dat daar ’n komplot teen swart leiers in die DA is nie. Dit is nie waar nie,” sê sy.

Die ander twee swart provinsiale leiers wat ondersoek word, is Nqaba Bhanga, Oos-Kaapse leier, en Zwakele Mncwango, KwaZulu-Natalse leier.

Bhanga sê hy lewer nooit kommentaar oor interne sake nie, maar dit is algemeen bekend dat hy nie op pad uit is nie. Hy is einde verlede maand op die Oos-Kaapse kieskongres, die eerste provinsiale kieskongres in aanloop tot die party se federale kongres, onbestrede tot leier herkies.

Mncwango word deur die regskommissie ondersoek omdat hy vroeër vanjaar vir Mmusi Maimane, voormalige DA-leier, na die opening van die KwaZulu-Natalse wetgewer genooi het. Daar is beweer hy wou hê Maimane moes ook die DA-koukus toespreek.

Mncwango het nie op navrae gereageer nie.

Helen Zille, voorsitter van die party se federale raad, wat deur Moodey, Maimane en Herman Mashaba, oudburgemeester van Johannesburg, in hul bedanking voorgehou is as ’n rede waarom hulle waai, het Maandag op ’n mediakonferensie bekend gemaak die enigste partyleier wat amptelik aangekla is, is Jacques Smalle van Limpopo.

Persoonlik is ek nie bewus dat swart leiers geteiken word nie, en ek is een.

Smalle is wit. Hy word bekyk weens die beweerde wanbesteding van verkiesingsgeld.

Joe McGluwa, Noordwes-leier, sê hy sit ook nie altyd om dieselfde vuur as Zille nie, maar om haar as ’n probleem uit te sonder is “onsmaaklik, onaangenaam en sinies”.

“Persoonlik is ek nie bewus dat swart leiers geteiken word nie, en ek is een,” sê McGluwa.

Bonginkosi Madikizela, Wes-Kaapse leier, sê die bewerings is “nonsens”.

“Daar is nie só iets nie.”

Dr. Nomafrench Mbombo, vroueleier van die party, sê sy voel ook nie geteiken nie.

Refiloe Nt’sekhe, adjunk- federale voorsitter van die DA.

Refiloe Nt’sekhe, adjunk- federale voorsitter van die party en Gautengse LPW, en Solly Malatsi, DA-LP en die party se woordvoerder, het uitgevaar teen dié wat bewerings van ’n anti-swart-komplot versprei. “As ’n swart persoon vind ek hierdie aanmerkings aanstootlik,” sê Nt’sekhe. “Baie mense het die DA gelos, insluitende wit mense, en niemand het toe gesê dat die party wit leiers teiken nie.

“Ek is nie na die DA gebring nie, ek het vanself aangesluit omdat ek geglo het die party se waardes stem ooreen met myne, en ek glo dit steeds.”

Malatsi sê daar is geen bewyse vir die bewerings nie.

“Dit toon weer die mislukking van politieke verslaggewers en ontleders om ontwikkelinge in die DA te meet deur na vereenvoudigde rassekonsepte oor te gaan.”

Die enigste swart leiers wat Rapport nie kon bereik nie, is Patricia Kopane, Vrystaatse leier, dr. Ivan Meyer, federale voorsitter, en Luyolo Mphithi, jeugleier.

Elke swart leier met wie Rapport gepraat het, het ook gesê hulle steun die waardes en beginsels, onder meer van nierassigheid, wat die DA verlede naweek op sy beleidskonferensie aanvaar het.

Rapport verneem sowat 97% van die sowat 110 federale raadslede het vir die beleid gestem.

“Slegs enkeles het daarteen gestem,” het een van die raadslede bevestig. Die helfte van die federale raad is wit.

Mbali Ntuli, die KwaZulu-Natalse LPW wat vir John Steenhuisen om die leierspos uitdaag, het Vrydag in ’n brief aan Zille gevra dat alle beleidsbesluite eers op die kieskongres bekragtig word wat op 31 Oktober en 1 November gehou word.

Rapport verneem dat Ntuli geen insette tydens die beleidskonferensie gelewer het nie. Gevra hoekom nie, het sy slegs die brief aan Zille as kommentaar voorgehou.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.