Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
‘G'n notas,’ sê Zuma glo toe hy voor kommissie verskyn

Oudpres. Jacob Zuma het in ’n vergadering met die integriteitskommissie van die ANC, toe hy gekonfronteer is met ’n aanbeveling dat hy as president van die land en van die ANC moet bedank, beveel dat alle toestelle waarmee hy opgeneem kan word, afgeskakel word en dat geen notas geneem mag word nie.

Dié inligting is vervat in ’n beëdigde verklaring van die ANC-amptenaar Uriel Abrahamse oor ’n besluit van die ANC se integriteitskommissie dat Zuma moet bedank en dat hy gevra is om in Desember 2016 in persoon voor dié kommissie te verskyn. Die verklaring is by die Zondo-kommissie van ondersoek ingedien.

Gwede Mantashe, minister van minerale bronne en voorsitter van die ANC, getuig Maandag verder voor die Zondo-kommissie. Foto: Skermgreep

Gwede Mantashe, minister van minerale bronne en voorsitter van die ANC, het Woensdag in sy getuienis voor die Zondo-kommissie gesê die ANC se integriteitskommissie het reeds in 2013 aanbeveel dat Zuma bedank.

Mantashe het Maandag in verdere getuienis volgehou dat hy nie sy datums verkeerd het nie, die aanbeveling is reeds in 2013 gemaak.

Volgens Mantashe was daar in 2013 byna chaos in die nasionale uitvoerende komitee (NUK) van die ANC toe die uitslag van die organisasie se integriteitskommissie bekend gemaak is, daarom weet hy sy datum is reg. Dit is korrek so genoem in sy beëdigde verklaring wat hy by die kommissie ingedien het, asook sy getuienis van Vrydag.

Hy het gesê die lede van die NUK het almal begin om hul mening te lug oor die aanbeveling in die vergadering waarin die besluit van die integriteitskommissie uitgelees is.

Adjunkhoofregter Raymond Zondo, voorsitter van die Zondo-kommissie van ondersoek na staatskaping, het aan Mantashe gevra of die debat onder die NUK-lede oor Zuma se bedanking reeds in 2013 begin en tot 2016 aangehou het toe die ANC se integriteitskommissie weer ’n besluit oor Zuma geneem het.

Mantashe het geantwoord: “Ja, die debat het aangegaan van 2013 tot 2016, en daarna.”

Mantashe is deur adv. Alec Freund SC, getuienisleier van die kommissie, gevra om klarigheid te gee oor die datums omdat Abrahamse in sy beëdigde verklaring gesê het hy het nie inligting dat die integriteitskommissie in 2013 ’n saak oor Zuma aangehoor het nie. “Ek is bewus daarvan dat die integriteitskommissie verskeie sake aangehoor het, maar nie een oor Zuma nie,” lui Abrahamse se beëdigde verklaring.

Abrahamse het gesê dat die ANC se integriteitskommissie wel in Desember 2016 ’n onderhoud van twee en ’n half uur met Zuma gehad het. Dit is gedurende dié gesprek dat Zuma gesê het dat alle toestelle waarmee opnames gemaak kan word, afgeskakel moet word en niemand notas mag neem nie.

Daar is geen skriftelike aanbeveling deur die integriteitskommissie gemaak nie.

Zondo het gesê Abrahamse was volgens sy beëdigde verklaring eers sedert 2015 lid van die integriteitskommissie, so dit is onduidelik hoe hy weet wat in 2013 gebeur het. Dit kan wees dat die integriteitskommissie nie rekord gehou het nie en hy nie weet wat in 2013 gebeur het nie. Hy moet ’n verdere beëdigde verklaring indien oor waar sy inligting vandaan kom, of iemand wat in 2013 ’n lid was van die ANC se integriteitskommissie moet ’n antwoord hieroor gee.

Mantashe het gesê die aanbeveling dat Zuma moet bedank, kom reeds van 2013 af, maar Zuma is eers in 2016 geroep om voor dié kommissie vrae daaroor te beantwoord in die tyd toe Andrew Mlangeni aan die hoof van die integriteitskommissie was.

Meer oor:  Staatskaping  |  Gwede Mantashe  |  Zondo-Kommissie  |  Jacob Zuma
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.