Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
‘Geen nut’ vir Ace-raadgewer in Indië, hoor Zondo

Peter Thabethe, voormalige hoof van die Vrystaatse departement van landbou, sê dit was nie nodig dat Ace Magashule se raadgewer hom in 2012 op ’n reis na Indië vergesel nie.

Adjunkhoofregter Raymond Zondo, voorsitter van die kommissie. Foto: Felix Dlangamandla

Thabethe, een van die rolspelers in die Vrede-suiwelprojek, het Donderdag ’n tweede keer voor die Zondo-kommissie van ondersoek na staatskaping getuig.

Miljoene rande van belastingbetalers se geld is gestort in dié projek wat basies op niks uitgeloop het nie.

Die projek was veronderstel om opkomende swart boere te help.

Thabethe se getuienis oor ’n reis na Indië, waar hy glo ’n suiwelplaas besoek het, was Donderdag strydig met dié van Mosebenzi Zwane, voormalige minister van minerale hulpbronne.

Zwane was destyds LUR vir landbou in die Vrystaat.

Leah Gcabashe, ondervraer van die kommissie, het daarop gewys dat Zwane getuig het hy het Ace Magashule, destyds premier van die Vrystaat, se raadgewer Ashok Narayan saam met Thabethe op die reis gestuur.

Die rede was volgens Zwane dat sowel Thabethe as oorsese amptenare “teleurgesteld” sou wees as Zwane nie ’n “protokol-beampte” saamgestuur het nie.

Thabethe ontken egter dat hy daar was om amptenare te ontmoet. Hy het later ook toegegee dit was nie nodig dat ’n protokol-beampte saamgegaan het nie. ’n Tolk sou voldoende wees.

“Ek hamer op dié punt omdat Narayan in ’n klompie hoedanighede by die Vrede-suiwelprojek betrokke was,” het Gcabashe gesê.

Hoewel Thabethe volhou die departement wou plaaslike maatskappye by die projek betrek, is die Indiese maatskappy Paras aan boord gebring. Paras het toe met Estina, ’n maatskappy wat glo bande met die Gupta’s het, saamgewerk aan die projek.

Gcabashe het ’n voorlegging voorgehou wat Thabethe aan plaaslike suiwelmaatskappye, onder meer Parmalat en Dairy-Belle, gestuur het. Volgens haar is die voorlegging van swak gehalte.

“Hoe kan ’n mens verwag dat beleggers in die projek sou belê as hulle só ’n voorlegging ontvang? Jy kan nie verwag dat hulle sou nie,” het Gcabashe sommer self geantwoord.

Thabethe sê daar skort niks met die voorlegging nie omdat dit nog aan die beginfase van die projek was. Hy gee wel toe hy het ’n ander dokument aan Paras gegee, maar dit was omdat Paras nie die Suid-Afrikaanse suiwelbedryf verstaan het nie, sê Thabethe.

Hy sal Vrydag sy getuienis voor die kommissie voortsit.

Meer oor:  Zondo-Kommissie  |  Peter Thabethe  |  Ace Magashule  |  Indië
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.