
Mense wat saamgedrom het in Senekal. Foto: Mlungisi Louw
Daar is geen plaasmoorde in Suid-Afrika nie. Daar is geen wit boere in die land wat vermoor word nie.
Só het Julius Malema, die EFF-leier, in Senekal gesê waar gemoedere in ’n dramatiese twee weke oor plaasmoorde oorgekook en erge rassespanning in die land veroorsaak het. EFF-lede en ondersteuners van die boere, wit en swart, het mekaar byna getakel.
Groot getalle EFF-lede het met tientalle busse na die dorp in die hart van die Vrystaat gestroom nadat Malema hulle beveel het om “aan te val” nadat ’n groep mense met die eerste verskyning van die vermeende moordenaars van die plaasvoorman Brendin Horner by die landdroskantoor ingestorm het.

’n Man hou boere weg van EFF-lede. Foto: Mlungisi Louw
’n EFF-splintergroep het Vrydag met die verdagtes se tweede verskyning om 10:00 die boere-groep omsingel wat van hul vergaderplek net buite die dorp wegbeweeg het. Hulle het toesprake teen plaasmoorde gehou en gebid.
Dit kon maklik in ’n bloedbad ontaard het, maar die boere-groep het doodstil bly staan met die EFF se beamptes wat hul hande vol gehad het om die “rooi vegters” te stop.
Van hulle het geskreeu “Kill the Boer, the farmer” terwyl hulle die vinger oor die keel getrek het. Die EFF-lede het kieries, gholf- en hokkiestokke by hulle gehad.

Die EFF Vrydag in Senekal. Foto: Mlungisi Louw

Julius Malema in Senekal. Foto: Mlungisi Louw

Partyleiers staan voor die groot groep EFF-betogers in Senekal. Foto: @EFFSouthAfrica
Geeneen van die mense aan enige van die twee kante het egter ’n vuurwapen uitgehaal nie.
Die Dogs of War-motorfietsgroep is wel kort daarna met klippe bestook toe hulle die dorp wou verlaat.
Malema, wat in die hof was, het sy ondersteuners die hele dag in die son laat wag en hulle eers ná 16:00 toegespreek.
Hy het gesê swart mense soek hul eie grond. Hulle wil nie net lewe van wit boere wat kos produseer nie, maar hul eie kos produseer.
Daar is ook nie so iets soos plaasmoorde nie. Die waarheid is eerder dat vroue en kinders in die land vermoor word en dit verg aandag.
“Moenie die ou, bevoorregte wit rassiste glo nie.”
Malema het gesê hy kon nie toelaat dat “wit, heerssugtige rassistiese generaals” geweld veroorsaak in Senekal soos verlede week toe hulle amok in die landdroshof gemaak het nie.
“Ons teiken nie die vredeliewende wit mense hier nie, ons soek die generaals wat swart mense wil skiet.”
Hy het gesê die boere het nie Senekal toe gekom oor ’n moord nie, maar om die “neiging van grondeienaarskap” te laat voortduur.
“As jy vrede vir SA wil hê en lief is vir swart mense, kan ons saam woon. Jy kan nie rassisme haat en self ’n rassis wees nie. Wanneer ’n wit en ’n swart mens ’n werk soek, sal die swart mens dit kry weens die geskiedenis van ons land.”

'n Bus met EFF-lede Vrydagoggend by 'n padblokkade buite Senekal. Foto: Mlungisi Louw
Malema het beklemtoon die EFF is nie in Senekal om die twee vermeende moordenaars van Horner by te staan of hul borgtog te betaal nie. Moordenaars is moordenaars en die EFF beskerm nie moordenaars nie.