Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
Geen verhoging vir Sisi wat reeds R2,2 m. verdien
Sisi Ntombela, Vrystaatse premier, wat geen verhoging kry vanjaar nie. Foto: Mlungisi Louw

Sisi Ntombela, die Vrystaatse premier, wat reeds ’n vet salaris van sowat R2,2 miljoen jaarliks verdien, asook LUR’e en die speaker van die Vrystaatse wetgewer, gaan vanjaar geen salarisverhoging ontvang nie, terwyl die ander wetgewerlede 2,5% kry.

Dié nuus is Vrydag op ’n sitting van die Vrystaatse wetgewer in die Vierde Raadzaal in Bloemfontein bekend gemaak.

Eers is gesê die premier se jaarlikse salaris styg na R2 260 409, waarna aangekondig is dat sy nie vanjaar vir salarisverhoging in aanmerking kom nie.

Vrystaatse LUR’e, die speaker en die premier is van die salarisverhoging uitgesluit, het Mamiki Qabathe, speaker, gesê.

Die ander wetgewerlede, wat in die vorige geldjaar 0% verhoging gekry het, kan nou ’n verhoging van 2,5% te wagte wees. Die verhogings geld van Maart vanjaar en is terugwerkend tot April verlede jaar.

* Dit is ook op die wetgewersitting besluit dat altesaam R19,5 miljoen van vier verskillende Vrystaatse departemente na die kantoor van die premier hertoegedeel gaan word.

Elzabé Rockman, Vrystaatse LUR vir finansies, het die 2018-’19- spesiale aansuiweringswetgewing wat saamloop met sekere voorsienings in die openbare finansiële bestuurswet ter tafel gelê. Sy het gesê die wet bepaal dat sekere geld in die begroting hertoegedeel mag word.

“Die totale bedrag wat nou na die premier se kantoor oorskuif, is R19,5 miljoen,” het sy gesê.

Die geld bestaan uit R4,5 miljoen wat geoormerk was vir die departement­ van ekonomiese en kleinsake-ontwikkeling, toerisme­ en omgewingsake; R8 miljoen van die departement van landelike ontwikkeling en grond­hervorming; R2 miljoen van die departement van sport, kuns, kultuur en ontspanning en R5 miljoen van die provinsiale tesourie.

Dit is nog nie seker waarvoor die premier se kantoor, die geld benodig nie.

Elzabé Rockman, Vrystaatse LUR vir finansies, wat gaan toesien dat geld hertoegedeel word.Foto: Mlungisi Louw

Rockman het gesê ’n bedrag van R39,979 miljoen gaan ook intern deur die volgende departemente hertoegedeel word om begrotingsdruk te verlig: R10 miljoen van die departement­ van ekonomiese en kleinsake-ontwikkeling, toerisme­ en omgewingsake, R9,4 miljoen van die departement van gesondheid en R20,572 miljoen van die departement van onderwys.

Die hertoedelings word gegrond op die vordering wat met sekere projekte gemaak word teen die einde van Januarie vanjaar en wat met geld van die provinsiale toelaag vir gelyke beregtiging gefinansier word.

Geld van projekte waarop minder as 50% van die jaarlikse begroting in die geldjaar uitgegee is, is geïdentifiseer vir herverdeling.

Rockman het gesê die uitvoerende raad van die provinsiale regering het ook besluit om die sogenaamde wit vloot wat munisipaliteite gebruik van die provinsie se vlootbestuur-handelsentiteit aan hulle oor te dra, sodat geld gespaar kan word.

Altesaam 247 eenhede van dié wit vloot, met ’n huidige geldwaarde van R23,587 miljoen, sal aan belanghebbende munisipaliteite oorgedra word.

’n Kostebesparing van R110,4 miljoen per jaar sal bewerkstellig kan word, het Rockman gesê.

Die nege munisipaliteite wat hierby baat gaan vind, is: Dihlabeng (Bethlehem), Letsemeng (Koffiefontein), Maluti-a-Phofung (Harrismith), Mangaung (Bloemfontein), Masilonyana (Theunissen), Metsimaholo (Sasolburg), Moqhaka (Kroonstad), Nala (Bothaville) en Ngwathe (Parys).

Rockman het gesê die Vrystaatse regering sal voortgaan om die munisipaliteite met “geel vloot” te ondersteun, soos wat dit nodig mag wees.

Die wit vloot word aan die munisipaliteite geskenk.

Meer oor:  Sisi Ntombela  |  Vrystaat
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.