Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
Geld vir SAL kan nie nou opdroog, sê Gordhan

Geld sal steeds in die sukkelende Suid-Afrikaanse Lugdiens (SAL) gepomp moet word om die onderneming aan die gang te hou totdat 'n sakereddingsplan in werking gestel kan word, sê Pravin Gordhan, minister van openbare ondernemings.

Hy het Woensdag in die parlement verslag gedoen oor die jongste verwikkelinge rakende die sakeredding waarin die staatsbeheerde lugdiens in Desember geplaas is en erken die lening van R3,5 miljard wat die Ontwikkelingsbank van Suider-Afrika vroeër vanjaar aan die SAL toegestaan het, sal teen Maart uitgeput wees.

Die sakereddingspraktisyns onder leiding van Les Matuson, het ook die verrigtinge Woensdag voor ’n gesamentlike sitting van die staande komitee oor openbare rekeninge en die portefeuljekomitee oor openbare ondernemings bygewoon.

LP’s in die komitees het gehoor die sakereddingspraktisyns het tot die slotsom gekom dat die SAL as onderneming gered kan word, maar nie in sy huidige vorm nie. Hulle is nou besig om ’n omvattende sakereddingsplan op te stel. Dit sal openbaar gemaak word sodra dit afgehandel is.

Gordhan het gesê dit was die beste uitweg vir die land, die lugdiens en sy personeel om die SAL in sakeredding te plaas.

Pravin GordhanFoto: DAILY SUN

Op ’n vraag of nog waarborge aan die lugdiens gegee sou word, het hy gesê net Tito Mboweni, minister van finansies, kan daaroor besluit.

“As hy op 26 Februarie sy begroting voorlê, sal ons sien wat die tesourie se planne is omdat hulle besig is om daaraan te werk.”

Gordhan het bygevoeg dit is belangrik dat die SAL verder gefinansier word terwyl die sakereddingsproses in werking gestel is. “Die lugdiens moet intussen ook as ’n lopende saak aangaan. Die koste-struktuur moet voortgaan. Ons moet dit dus aanhou voer.”

“Toe twee van die sewe erkende vakbonde in November by die SAL begin staak het, het een van die vakbonde aangekondig dit is nie meer veilig om met die SAL te vlieg nie.

“Die week daarna is kaartjieversekering in die Verenigde Koninkryk onttrek en het die SAL se besprekings met 85% geval. Dit terwyl 65% van die SAL se inkomste uit buitelandse of internasionale vlugte kom.

“Laat November en vroeg Desember het twee vooraanstaande kaartjieversekeraars in Suid-Afrika ook hul versekering onttrek.

“Die goeie nuus is dat die sakereddingspraktisyns daardie twee maatskappye verlede week kon oortuig om weer kaartjies te verseker.”

Volgens Gordhan is kaartjieversekering “absoluut noodsaaklik” om ’n lugdiens te laat werk.

“As jy al die basiese dinge soos versekering onttrek, veroorsaak jy verdere afname in inkomste en vertroue in die lugdiens.

“Die derde ding wat in Desember gebeur het, is dat reisagente soos Flight Centre nie meer SAL-besprekings wou doen nie. Dit word egter ook nou reggestel.”

Gordhan het bygevoeg dat hy en sy span onlangs met die vereniging van reisagente vergader het en dat hulle die lugdiens weer ondersteun.

Die finansiering is ook nodig om op te maak vir die verdere verlies aan inkomste.

“As alle LP’s en staatsamptenare net met die SAL vlieg, sal dit ’n verskil begin maak. Dit is tog geld van die fiskus. Dan sal alle staatsgeld na die SAL gaan en sy inkomste verhoog,” het Gordhan gesê.

Meer oor:  Sal  |  Suid-Afriikaanse Lugdiens  |  Pravin Gordhan
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.