Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
Geldknyp: ANC ‘sny dalk personeelkorps met die helfte’
Paul Mashatile, tesourier-generaal van die ANC. Foto: Argief

’n Baie moeilike verkiesingsjaar wag op die ANC, waarsku die politieke ontleder dr. Ralph Mathekga, nadat dit vroeër die dag bekend geword het die ANC kan weens finansiële redes gedwing word om sy personeel met die helfte minder te maak.

Paul Mashatile, tesourier-generaal van die ANC, het volgens ’n uitgelekte stemopname Sondagoggend aan die nasionale uitvoerende komitee (NUK) van die party gesê dit gaan nie goed met die regerende party se geldsake nie.

’n Volledige verslag kan moontlik Maandag aan die NUK voorgelê word. Dit sal eers aan die party se topsesleiers gestuur word.

In die opname wat deur The Insight Factor op Twitter versprei is, sê Mashatile verskeie moontlikhede word in opdrag van die topses oorweeg om die party se geldsake te verbeter.

Daar word ook gekyk na sogenaamde skarefinansiering waar die publiek gevra word om geld by te dra.

Dit sluit in die verhoging van lidmaatskapgeld en die organisatoriese herskikking van die party. Tot die helfte van die party se personeel kan geraak word, sê Mashatile.

Daar word ook gekyk na sogenaamde skarefinansiering waar die publiek gevra word om geld by te dra.

Die ondersoek word gelei deur Febe Potgieter, hoofbestuurder van Luthuli-huis, die ANC se hoofkantoor in Johannesburg.

“Ons kyk ook na maniere hoe om geld in te samel vir verkiesings,” het Mashatile aan die NUK gesê.

Die ANC sukkel al die afgelope twee jaar om sy personeel se salarisse betyds te betaal.

Daar was in die afgelope paar jaar verskeie gevalle waar die balju se hulp ingeroep is om die party te dwing om sy rekeninge te betaal.

Daar was ook al sprake van ’n moontlike staking deur ANC-personeel.

Mathekga het in reaksie op Mashatile se aankondiging oor die vermindering van personeel gesê die ANC stuur af op ’n baie onbekende “verkiesingsomgewing, minder geld en toenemende kommer oor korrupsie en ’n swak vertoning as regering”.

* Die ANC het Sondagmiddag in ’n verklaring gesê hy is bekommerd oor die toenemende tendens dat opnames van besprekings in die party uitlek.

Die party sê hy glo die inligting word doelbewus gelek om die ANC te verdeel en ’n bepaalde narratief te bevorder. Dit is in teenstelling met die gees waarin die vergadering plaasvind.

Die ANC se regspan gee aandag aan die kwessie, lui die verklaring.

Meer oor:  Ralph Mathekga  |  Anc  |  Geldknyp
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.