Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
DA se federale raad reg om te herbou

Die DA se komende beleids- en spesiale verkiesingskongres sal vir dié party die geleentheid bied om homself te herposisioneer, maar ook om ware eenheid én ’n gemeenskaplike doel te bereik.

John Steenhuisen, tussentydse DA-leier, het dít Sondag by dié party se hoofkwartier in Johannesburg gesê toe hy en ander senior DA-leiers besluite van sy federale raadsvergadering, wat die afgelope naweek gehou is, bekend gemaak het.

Dit was die DA se laaste federale raadsvergadering voordat die party op 4 en 5 April vanjaar sy beleidskongres by die Birchwood-hotel in Kempton Park sal hou.

Die party hou op 30 en 31 Mei vanjaar ook sy spesiale federale verkiesingskongres by die Gallagher-konvensiesentrum in Midrand om veral ’n nuwe federale leier te verkies nadat Mmusi Maimane verlede jaar as federale DA-leier en -lid bedank het.

John Steenhuisen (middel) Sondag by die DA-nuuskonferensie in Johannesburg. Senior DA-leiers is Refiloe Nt’sekhe (links) en dr. Ivan Meyer (regs). Foto: Arisa Janse van Rensburg

Vroeër is berig hoe Steenhuisen, Mbali Ntuli, DA-lid van die KwaZulu-Natalse wetgewer, en John Moodey, Gautengse DA-leier, sake om dié pos sal uitspook.

Moodey stel Maandag sy veldtog om DA-leier te word amptelik in Johannesburg bekend nadat Steenhuisen en Ntuli dit reeds vroeër gedoen het.

Steenhuisen het Sondag in sy hoedanigheid as tussentydse leier gesê dat die DA ná sy beleids- en verkiesingskongres verenig en sterker daar moet uitsien.

“Ons het onlangs goeie momentum opgebou en moet daarop voortbou deur op kwessies te fokus wat vir die mense van Suid-Afrika saakmaak.”

Volgens hom het die federale raad eenparig saamgestem dat die party deur sy beleids- en verkiesingskongres, sowel as sy organisatoriese en grondwetlike hersienings, herstel moet word.

Die vergadering het onder meer ook besluit dat die party, wat in verlede jaar se algemene verkiesing derduisende stemme, veral dié van wit Afrikaanse kiesers aan die VF Plus, afgestaan het, weer sy meerderheid as amptelike opposisie moet herbou.

Populiste wat Suid-Afrika vernietig, word nie net in een party aangetref nie, hulle is oor partye versprei. Die hervormers is ook nie net in een party nie.

Hy sê die DA moet ’n manier vind om vertrouensverhoudings te bou met diegene wat hul waardes deel.

“Populiste wat Suid-Afrika vernietig, word nie net in een party aangetref nie, hulle is oor partye versprei. Die hervormers is ook nie net in een party nie. Die DA moet nou leiding neem om die hervormers te verenig op ’n weg na vooruitstrewendheid en om ’n nuwe meerderheid te bou,” het Steenhuisen gesê.

Luidens die verklaring wat Steenhuisen Sondag uitgestuur het, is die federale raad ook tevrede dat voorbereidings vir die beleidskonferensie glad verloop en dat daar by die tydsraamwerk gehou sal word.

Die party het reeds sy voorlopige beleidsdokument oor waardes en beginsels bekend gestel en sal op 28 Februarie sy raamwerk vir sy beleid oor ekonomiese geregtigheid ter insae uitreik.

By die verkiesingskongres in Mei sal daar benewens die federale leiersposisie, ook meegeding word vir die posisie van federale voorsitter, waaruit Athol Trollip verlede jaar bedank het, sowel as vir dié van drie adjunk- federale voorsitters.

Lede van die federale raad sal ook ’n nuwe raadsvoorsitter en twee adjunkvoorsitters, sowel as ’n federale voorsitter vir finansies verkies.

Greg Krumbock en Desiree van der Walt, albei DA-LP’s, sal die kiesbeamptes by die verkiesingskongres wees.

Die spertyd vir benoemings vir bogenoemde posisies is om 16:00 op 9 Mei.

Die federale raad het dit benadruk dat daar van alle kandidate vereis word om aan die DA-standaarde vir gedrag in interne verkiesings te voldoen.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.