SPESIALE VAKANSIE-AANBOD: Teken in teen net R49 vir jou eerste maand! Word 'n intekenaar
Politiek
Gemoedere loop hoog oor grondverslag

Bitsige opmerkings en beledigings het die bespreking gekenmerk toe LP’s moes besluit oor of die land se Grondwet gewysig behoort te word om grondonteiening sonder vergoeding moontlik te maak.

Adv. Glynnis Breytenbach Maandagoggend by die konstitusionele hof in Johannesburg. Foto: Deaan Vivier

Gemoedere onder die lede van die gesamentlike parlementêre grondwetlike hersieningskomitee het Donderdag hoog geloop met die bespreking van die konsepverslag wat saamgestel is ná die openbare sittings en geskrewe voorleggings oor of art. 25 van die Grondwet – die eiendomsklousule – gewysig moet word of nie.

Tebogo Mokwele, EFF-LP, het die politieke temperatuur behoorlik laat styg toe sy by tye na sommige van haar medekomiteelede as “wit” verwys het. Die twee medevoorsitters, Lewis Nzimande en Stanford Maila, het hul hande vol gehad om die vergadering ordelik te laat verloop.

Komiteelede het die konsepverslag bladsy vir bladsy nagegaan.

Glynnis Breytenbach, DA-LP, het voorgestel dat die komitee die bevindinge van die hoëvlakpaneel onder leiding van Kgalema Motlanthe, wat die impak van Suid-Afrika se wetgewing sedert 1994 ondersoek het, moet oorweeg.

Sy het ook voorgestel die waardeerder-generaal vir grond moet gevra word om ’n voorlegging aan die komitee te lewer.

Die regering se grondhervormingsplanne, prosesse en wetgewing is onder meer hewig gekritiseer in Motlanthe se verslag wat in 2017 aan die parlement oorhandig is.

Die onteiening van grond sonder vergoeding is een van die kwessies wat besig is om Suid-Afrikaners te verdeel. Foto: Argief

Die verslag het onder meer daarop gewys dat die behoefte om vergoeding te betaal volgens kundiges nie die grootste beperking op grondhervorming in Suid-Afrika was nie.

Ander beperkings soos korrupsie deur amptenare, asook die herleiding van die begroting vir grondhervorming na die elite, die gebrek aan politieke wil en die gebrek aan opleiding en kapasiteit, is van die ander groter probleme.

Pleks van die wysiging van die Grondwet, het die paneel aanbeveel dat die regering sy bestaande bevoegdhede ten opsigte van onteiening met groter vrymoedigheid toepas sodat die bepalings in die Grondwet oor vergoeding – veral wat ongebruikte of onderbenutte grond betref – getoets kan word.

Die komitee beoog om sy besprekings oor die konsepverslag teen 15 November af te handel.

Meer oor:  Glynnis Breytenbach  |  Parlement  |  Drama
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.