Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
Genade vir Zuma? Dan moet hy eers jammer sê

Oudpres. Jacob Zuma oorweeg hoegenaamd nie om pres. Cyril Ramaphosa om begenadiging te vra nie omdat hy nie glo hy het enigiets verkeerd gedoen nie, sê Zuma se woordvoerder, Mzwanele Manyi.

“Om vir begenadiging aansoek te doen, beteken dat Zuma skuld moet beken. Zuma het niks verkeerd gedoen nie en hy gaan vir niks verskoning vra nie,” sê Manyi, wat onlangs as woordvoerder van die Jacob Zuma-stigting aangestel is.

Oor môre se aansoek voor die konstitusionele hof waarin Zuma vra dat die hof sy skuldigbevinding aan minagting van die hof en ook sy tronkstraf ophef, het Manyi gesê: “Ons het alle hoop dat die aansoek in die konstitusionele hof gaan slaag. Die Grondwet bepaal dat niemand aangehou mag word sonder dat hy ’n verhoor gehad het nie en Zuma is beslis nie verhoor nie.”

Regskenners is egter skepties.

Hulle gis ook oor die moontlikheid dat Zuma (79) weldra deur Ramaphosa begenadig kan word – óf vir sy skuldigbevinding aan minagting van die hof óf indien hy nog skuldig bevind sou word aan korrupsie in die wapensaak, wat op 19 Julie aangehoor word.

‘Hy moet eers die klagte erken.’

’n Senior advokaat wat om etiese redes nie sy identiteit bekend mag maak nie, sê begenadiging is die enigste manier om Zuma uit die tronk kry voordat hy sy vonnis van 15 maande uitgedien het of in aanmerking kom vir parool.

Maar dan sal Zuma moet bieg.

Die advokaat glo ook ’n begenadiging in hierdie stadium sal min sin maak voordat die wapensaak aangehoor is, behalwe as Zuma by voorbaat skuld sou beken sodat hy ook daarvoor begenadig kan word. Dit sal immers nie deug om hom te begenadig vir minagting van die hof en hom daarna weer te laat tronkstraf uitdien weens bedrog en korrupsie in die wapenskandaal nie.

“Dit is moontlik om hom te begenadig selfs sonder dat hy op die klagte oor korrupsie en bedrog skuldig bevind is, maar ek kan nie sien dat hy begenadig kan word sonder dat hy die klagte erken nie,” sê die advokaat.

“Dis ’n ope vraag of hy kan erken wat hy gedoen het, maar nie erken dat hy dit as ’n misdaad beskou nie. Hy erken met ander woorde wat gebeur het, maar nie die regsimplikasies daarvan nie.”

Manyi se uitsprake en ook Zuma se optrede wys dat hy onverbiddelik in sy onskuld glo. Regslui is egter dronkgeslaan oor hoe Zuma se regspan die afgelope week probeer het om hom uit die tronk te hou waar hy gisteraand die vierde nag deurgebring het.

Die menseregteprokureur Richard Spoor meen dit was “absurd” van Zuma se regspan om in Pietermaritzburg ’n interdik teen sy inhegtenisneming te probeer kry en ’n ander aansoek vir die tersydestelling van die skuldigbevinding en vonnis in die konstitusionele hof in te dien. “Dit het eenvoudig nie sin gemaak nie, want hy is in die konstitusionele hof skuldig bevind en gevonnis. Dit kom op presies dieselfde neer as om in ’n landdroshof ’n bevel te vra teen ’n hofbevel wat deur ’n hooggeregshof uitgereik is,” sê Spoor.

Spoor sê as hy Zuma se regsverteenwoordiger was, sou hy albei aansoeke by dieselfde hof ingedien het – Zuma se aansoek om die tersydestelling van sy vonnis en die aansoek vir ’n interdik om die aanhoudingslasbrief te stuit – totdat die aansoek om tersydestelling afgehandel is.

“Dis net logies dat dit in die konstitusionele hof ingedien moet word. Dis die hoogste hof en die hof wat die oorspronklike skuldigbevinding gemaak het en die vonnis opgelê het,” sê Spoor.

Die enigste rede waarom adv. Dali Mpofu SC die aansoek in die hof in Pietermaritzburg ingedien het, sou volgens Spoor wees dat hy gedink het hulle kan die regter in die laer hof ’n gat in die kop praat.

“Die argument . . . was dat die Strafproseswet nie uitdruklik voorsiening maak daarvoor dat iemand tronkstraf opgelê kan word sonder ’n strafregtelike verhoor nie. Hulle het probeer aanvoer dat die konstitusionele hof se vonnis gegrond is op wat hulle meen ’n ongrondwetlike bepaling in die Strafproseswet is en dat die vonnis daarom ongrondwetlik is. En omdat Zuma nie in ’n strafsaak aan minagting van die hof skuldig bevind is nie, maar in ’n dringende aansoek van die Zondo-kommissie, is die uitspraak en vonnis ongrondwetlik.

“Dis ’n ingewikkelde regsargument wat moeilik gevolg word. En dan die verskoning waarom hy nie die konstitusionele hof se uitnodigings benut het om die hof oor vonnisoplegging toe te spreek of voorleggings daaroor te maak nie. Onder meer dat hy nie geld gehad het nie – dit gaan net nie op nie.”

Spoor verwag ook min sukses vir Zuma môre. “Die uitspraak en vonnis van die konstitusionele hof is baie versigtig oorweeg. Die meerderheidsuitspraak het die argumente van die minderheidsuitspraak oorweeg en daarop geantwoord,” sê hy.

Die enigste leemte is dat Zuma nooit voorleggings aan die hof gemaak het oor vonnisoplegging nie, maar dit was weens sy eie toedoen. Die konstitusionele hof se besluit om Zuma se regspan aan te hoor, is waarskynlik gedoen om dié leemte te vul.

“Maar die hof het Zuma uitdruklik gevra om deel te neem en voorleggings aan hom te doen oor skuldigbevinding en vonnis. Hy het daarop geantwoord met ’n brief wat niks daaroor gesê het nie. Dis gedane sake,” sê Spoor.

Tyrone Seale, woordvoerder van Ramaphosa, sê ’n moontlike aansoek om begenadiging moet deur Ronald Lamola, minister van justisie, aan Ramaphosa voorgelê en aanbeveel word. “In dié stadium is daar geen só ’n aansoek nie.

“Sover ek weet word só ’n aansoek ook nie voorberei nie.”

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.