Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
Gerugte van moordkomplot in W-Kaapse DA-leierstryd

Die leierskapstryd om die toppos in die DA in die Wes-Kaap het ’n lelike draai geloop, nadat een van die kandidate sy mededinger van ’n moordkomplot beskuldig het.

Met die provinsiale kongres wat Saterdag begin, het gerugte die afgelope maand die ronde gedoen dat die huidige partyleier, Bonginkosi Madikizela, glo agter ’n komplot sit om die speaker van die Wes-Kaapse wetgewer, Masizole Mnqasela, wat meeding vir dieselfde leierskapspos, te vermoor.

Volgens die gerugte was daar na bewering tydens ’n vergadering met mense in die onderwêreld ’n gesprek oor hoe om van Madikizela se kompetisie ontslae te raak.

Alan Winde, Wes-Kaapse premier, het bevestig dat Mnqasela hom oor die bewerings ingelig het.

Bonginkosi Madikizela, leier van die DA in die Wes-Kaap. Foto: Foto24

“Weens die aard van die aantygings het ek met die polisie oor die saak vergader.”

Winde sê hy het Mnqasela gevra om die besonderhede van die fluitjieblaser regstreeks aan die polisie te gee sodat hulle die saak deeglik kan ondersoek.

“Ek het Bonginkosi Madikizela, wat die bewerings ontken, gevra om dieselfde te doen en met die polisie saam te werk,” het Winde gesê.

DA-lede in die party se binnekringe sê die hele storie het op die lappe gekom toe ’n fluitjieblaser glo die aantygings gemaak het.

“Dis blykbaar ‘boelietaktiek’ wat gebruik word in ’n desperate poging om ’n voorsprong in die leierskapstryd te kry,” het van die partylede gesê.

Ons verstaan dat dit nou sulke ernstige vlakke bereik het dat Mnqasela nie bereid is om teenwoordig te wees in enige vergadering waar Madikizela is nie.

“Eers kon niemand die sogenaamde fluitjieblaser opspoor nie. Dit is nie ’n partylid nie, maar vermoedelik iemand met bande in die Kaapse onderwêreld.”

Wat gemoedere binne die party verder opjaag, is die kwessie rondom of Mnqasela sal kan aanbly in sy pos as speaker indien hy wen.

Partylojaliste het hul kommer uitgespreek en sê die speaker-pos moet onpartydig wees en ’n leier van ’n politieke party moet liewer nie die pos beklee nie, om ’n belangebotsing te verhoed.

’n Woedende Madikizela het die gerugte oor die komplot as ’n smeerveldtog teen hom afgemaak, maar die party stel nietemin ondersoek in na die bewerings.

“Die ergste ding van ’n smeerveldtog is dat dit jou vir ewig agtervolg, selfs nadat bewerings vals bewys is. Enigeen wat sy kollegas valslik beskuldig, moet ernstig gestraf word sodat dit ’n duidelike boodskap aan ander sal stuur om nie stories op te maak en te versprei nie.”

Masizole Mnqasela, speaker van die Wes-Kaapse wetgewer.

Mnqasela het nie navrae beantwoord nie.

Op Facebook het DA-lede hul ondersteuning vir Madikizela uitgespreek en gesê sy kompetisie is besig om hom te beswadder.

Boodskappe op Facebook het ingesluit: “So jammer dat jy dit moet verduur. Aantygings is so maklik om te maak en so moeilik om af te skud”; “Ek weet dat ons altyd verskil wat DA-politiek betref, maar eerlik ek dink nie dat u tot so iets in staat is nie.”, “Valse beskuldigings moet beslissend hanteer word”; “Bonginkosi Madikizela se karakter spreek boekdele.”

Helen Zille, DA-voorsitter van die federale raad, het gesê die aantygings is ernstig en word deur die party ondersoek.

“Die DA se federale regskommissie ondersoek die saak en het onderhoude met albei kante gedoen.”

Zille sê daar is nog geen strafregtelike aanklagte in verband met die beweerde komplot aanhangig gemaak nie.

Die kommissie sal na verwagting ’n verslag oor hul bevindings teen Dinsdag aan die party voorlê.

Anton Bredell, DA-voorsitter in die Wes-Kaap, sê hulle doen alles in hul vermoë om die aangeleentheid voor die naweek uit te klaar, wanneer die Wes-Kaapse kongres sal plaasvind.

Cameron Dugmore, die ANC se provinsiale leier, het gesê die party se koukus is bekommerd oor toenemende “vyandigheid” binne die topgeledere van die DA weens hul interne leierskapstryd.

Dugmore sê die ANC het gevra vir ’n kitsdebat in die wetgewer om die vermeende sluipmoordkomplot te bespreek.

“Die ANC het volledige openbaarmaking van premier Alan Winde oor die inhoud van die bewerings nodig en watter stappe hy gedoen het om dit te ondersoek. Die ANC wil weet of regeringsbronne gebruik word om hierdie leierstryde te veg.”

Die ANC sê die binnegevegte kan die provinsiale wetgewer en die provinsiale bestuur destabiliseer.

“Ons verstaan dat dit nou sulke ernstige vlakke bereik het dat Mnqasela nie bereid is om teenwoordig te wees in enige vergadering waar Madikizela is nie,” het Dugmore gesê.

Die party sê Winde moet sy kennis van die bewerings aan die wetgewer oordra en hoe dit Mnqasela se administrasie beïnvloed het.

Die ANC het ook die polisie versoek om die aantygings te ondersoek.

Madikizela en Mnqasela sal mekaar Saterdag pak vir die pos van provinsiale leier, terwyl James Vos en Jaco Londt teen mekaar meeding vir die pos van provinsiale voorsitter.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.