Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
‘Geskiedenis maak Afrikaans uitheems’

Die departement van hoër onderwys en opleiding het besluit om Afrikaans as ’n “uitheemse” taal te klassifiseer omdat dit nie soos ander Afrikatale “histories gemarginaliseer” is nie.

Dít is dr. Blade Nzimande, minister van hoër onderwys en opleiding, se reaksie op ’n versoek van die DA om te sê waarom sy departement Afrikaans én die Khoe- en Santaal as “uitheems” geklassifiseer het.

Dr. Leon Schreiber, DA-LP, het die versoek in April aan Nzimande gerig in die vorm van ’n aansoek ingevolge die Wet op die Bevordering van Administratiewe Geregtigheid.

Schreiber se versoek volg nadat Nzimande se departement se nuwe beleidsraamwerk vir taalgebruik in hoër onderwys, wat in Oktober bekend gestel is, slegs “Suid-Bantoetale” as inheems aan Suid-Afrika erken.

Hierdie raamwerk definieer “inheemse tale” as “tale wat hul ontstaan in Afrika het en aan die suidelike Bantoe-taalfamilie behoort”.

Nzimande het ook daarop gesinspeel dat die Khoe- en Santaalfamilie nie inheems aan ’n streek in Suid-Afrika is nie.

Schreiber meen die raamwerk is “leuenagtig en onwetenskaplik” omdat die Khoe- en San-taalfamilie “van die heel oudste ter wêreld is”, terwyl Afrikaans “ ’n inheemse taal is wat op tuisbodem ontwikkel is”.

Nzimande het op 25 Mei aan Schreiber teruggeskryf dat die definisie van “inheemse tale” in die raamwerk gebruik is om aandag te vestig op die “historiese marginalisering van Afrikatale as gevolg van koloniale sowel as apartheidserfenisse”.

Volgens Nzimande kort hierdie “Suid-Bantoetale” akademiese ontwikkeling. “Die beleidsraamwerk benadeel of sluit nie op enige manier Afrikaans uit nie omdat die nodigheid om alle Suid-Afrikaanse tale, behalwe Engels, te ontwikkel goed in die raamwerk geartikuleer word,” lui Nzimande se skrywe.

“Die hoofdoelwit van die raamwerk is nie om te stry of om die debat oor inheemsheid af te handel nie, maar liewers om die kollig te plaas op historiese marginalisering van Afrikatale in die akademie en maniere voor te stel hoe hierdie historiese onregte reggestel kan word.”

Nzimande het ook daarop gesinspeel dat die Khoe- en Santaalfamilie nie inheems aan ’n streek in Suid-Afrika is nie.

Schreiber het verlede week aan Nzimande teruggeskryf die regverdigings is “irrasioneel” en dat die reaksie nie in ag neem dat die definisie van inheemse tale ooglopend en demonstreerbaar vals is nie.

“Die Khoe-taalfamilie is een van die oudste in die wêreld, en dit is absurd om voor te gee dat dit nie inheems aan Suid-Afrika is nie. Die uitsluiting van Afrikaans is ewe absurd omdat Afrikaans ’n taal is wat in Suid-Afrika ontwikkel is en amper eksklusief in hierdie deel van die wêreld gepraat word.”

Meer oor:  Blade Nzimande  |  Leon Schreiber  |  Taalbeleid  |  Afrikaans  |  Da
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.