Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
Geskorste hoof terug as munisipale bestuurder
Die begraafplaas in Ventersdorp wys die verval weens erge diensleweringsprobleme. Foto: Susan Cilliers

Die voormalige finansiële hoof van ’n munisipaliteit in Noordwes wat vroeër uit dié pos geskors is ná bewerings van finansiële ongerymdhede, is terug – dié keer as munisipale bestuurder.

Die DA en opposisiepartye was so gegrief oor die ANC-beheerde Tswaing-munisipaliteit se besluit om Isaac Moruti weer aan te stel, dat hulle uit die vergadering gestap het waar die besluit op 20 Julie geneem is.

Tswaing bedien Sannieshof, Dalereyville, Ottosdal en omliggende townships. Dié munisipale gebied is al vir jare berug weens erge diensleweringsprobleme, veral wat betref die voorsiening van water- en riooldienste.

Carin Visser, DA-koukusleier in Tswaing, sê Moruti is vroeër as hoof van finansies in Tswaing geskors ná beweerde finansiële ongerymdhede.

“Tswaing is ook onder administrasie geplaas terwyl hy die finansiële hoof hier was.”

Visser sê in Moruti se tyd by Tswaing was rekordhouding oor geldsake so chaoties dat die ouditeur-generaal (OG) verskeie agtereenvolgende jare nie ’n mening daaroor kon gee nie.

Nadat Moruti weg is as hoof van Tswaing se finansies, is hy as munisipale bestuurder in Ventersdorp aangestel. Hier het dit net so beroerd gegaan. Inwoners kla gereeld oor ’n gebrek aan basiese dienslewering soos betroubare voorsiening van water en elektrisiteit.

Ventersdorp was ook onder administrasie en bankrot toe dit in Augustus 2016 met die Tlokwe-munisipaliteit in die Potchefstroom-omgewing saamgesmelt het.

Visser sê die OG het nou gevra dat die Ventersdorp-munisipaliteit ondersoek word weens beweerde wanadministrasie en ongerymdhede in die tydperk voordat dit met Tlokwe saamgesmelt het, toe Moruti die munisipale bestuurder was.

Moruti was vir ’n tydperk ná die samesmelting hoof van finansies in die Ventersdorp-Tlokwe-munisipaliteit.

Willie Maphosa, munisipale bestuurder van Tlokwe-Ventersdorp, het Dinsdag gesê Moruti het intussen bedank. “Ons wag nou vir ’n verslag wat ons munisipale bestuurder en interne ondersoekers saamstel oor ondersoeke wat aan die gang is (in Ventersdorp) en na amptenare daar.”

Visser sê Moruti se geskiedenis wys hy is geensins geskik om ’n senior pos in Tswaing of enige ander munisipaliteit te beklee nie.

Lydia Malwane, burgemeester van die Tswaing-munisipaliteit, het geweier om kommentaar te lewer.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.