Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
Gesloer met Vrede-suiwelprojek duur voort

Die ondersoek na die omstrede Vrede-suiwelprojek gaan steeds gebuk onder ’n gesloer en ’n voeteslepery, blyk uit ’n vergadering Woensdag van die gesamentlike komitee van die Vrystaatse wetgewer wat aangestel is om die projek te ondersoek.

Dié komitee, bestaande uit die komitees verantwoordelik vir openbare rekeninge en landbou, het vergader om die weg vorentoe met die ondersoek te bespreek.

Dévar Smit, VF Plus-wetgewerlid, het ná die kort vergadering gesê die party meen die ondersoek moet voortgesit word, veral oor prosesse wat nie reg gevolg word nie.

Dr. Roy Jankielsohn, DA-lid en leier van die amptelike opposisie in die Vrystaatse wetgewer, het gesê die gesamentlike komitee is op aandrang van die DA aangestel om die Vrede-suiwelprojek te ondersoek.

“Die komitee is in die vorige termyn aangestel en kon weens die doelbewuste rompslomp nie sy ondersoek voltooi nie.”

Die omstrede Vrede-suiwelprojek in die Vrystaat. As Vrede se koeie maar net kon praat . . .Foto: Mlungisi Louw

Die komitee het Woensdag besluit om werkwyses te skep waarvolgens die probleem hanteer moet word.

Volgens die besluit moet inligting eers van die vorige komitee verkry word en pogings moet aangewend word om inligting van die Zondo-kommissie ban ondersoek na staatskaping te verkry.

’n Verslag oor gesteelde beeste moet van Open Waters verkry word, asook ’n lys van begunstigdes.

Jankielsohn sê hy is ook versoek om sy inligting aan die komitee beskikbaar te maak aangesien hy onlangs hieroor voor die Zondo-kommissie moes getuig.

Jankielsohn het ná die vergadering gesê “daar is ’n taamlike dringendheid rondom die ondersoek, aangesien dit ’n werkende melkplaas is waar die begunstigdes al sewe jaar sonder enige voordele sit en wag.

“Trouens, van die veronderstelde begunstigdes het hul beeste opgegee en hulle leef in armoede. Hulle het gehoop die projek sal hulle help om uit hul benarde omstandighede te kom.

“Die komitee het ook bevind dat die saak nie sub judice is nie en dat daarom met die ondersoek voortgegaan mag word.”

Jankielsohn sê sonder begunstigdes het geen projek bestaansreg nie. Dit is nie die regering se werk om beeste te melk nie.

“Tot dusver is net belastingbetalers gemelk. Die enigste begunstigdes blyk die Guptas en E’tsho met hul vennote in die regering te wees.”

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.