Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
Gesprek met tesourie oor reddingsboei vir SAUK

Gesprekke is tussen die nasionale tesourie en die departement van kommunikasie aan die gang oor ’n finansiële reddingsboei of staatswaarborg vir die SAUK om sy regrukstrategie in werking te stel.

Stella Ndabeni-Abrahams, minister van kommunikasie.Foto: GCIS

Dié strategie sal volgens Stella Ndabeni-Abrahams, minister van kommunikasie, voor 30 September gefinaliseer wees. Sy het dié inligting Donderdag in antwoord op ’n geskrewe parlementêre vraag deur adv. Anton Alberts, VF Plus-LP, verskaf.

“Terwyl die regering erken dat die SAUK dringend finansiële bystand vereis, is ’n finale besluit oor die tipe bystand – ’n staatswaarborg of ’n reddingsboei of ’n kombinasie van albei – sowel as die presiese bedrag, nog nie in dié stadium geneem nie,” lui haar antwoord.

Michael Bagraim, DA-LP, wou in ’n ander parlementêre vraag by Ndabeni-Abrahams weet of die SAUK die aanbevelings van die parlementêre ad hoc-komitee wat ’n ondersoek na die openbare uitsaaier gedoen het, in werking gestel het. Altesaam 12 van die 24 aanbevelings is volgens haar suksesvol deur die tussentydse, sowel as die daaropvolgende rade, toegepas.

Die ander 12 aanbevelings is in die proses om toegepas te word, waaronder:

* Ondersoeke deur die Spesiale Ondersoekeenheid wat voortduur;

* Hangende siviele sake om kontrakte wat onreëlmatig toegeken is as onwettig en ongeldig te verklaar;

* Die verhaling van geld wat aan die SAUK verskuldig is; en

* Raadpleging tussen die SAUK-bestuur en georganiseerde arbeid oor die hersiening van beleid en prestasiebestuur.

Die minister het verder daarop gewys dat die SAUK gereeld met die kantoor van die ouditeur-generaal praat oor sy bevindinge te opsigte van onreëlmatige, vrugtelose en vermorste uitgawes.

Ndabeni-Abrahams het ook gesê die SAUK se interne ouditeurs het forensiese ondersoeke gedoen na onreëlmatige, vrugtelose en vermorste uitgawes wat tussen 1 April 2012 en 31 Maart 2017 plaasgevind het. Hofverrigtinge is teen ses maatskappye aan die gang weens dié ondersoeke.

Sy het ook verwys na die raad se besluit om regsaksie in te stel om geld van Hlaudi Motsoeneng en James Aguma, onderskeidelik die voormalige bedryfshoof en voormalige uitvoerende hoof, te verhaal wat hulle blykbaar op ’n onreëlmatige wyse bekom het.

Die raad het ook aanbeveel dat strafregtelike klagte oorweeg word teen werknemers wat na bewering aan die misdadige aktiwiteite deelgeneem het.

Die pensioenuitbetalings van Motsoeneng en Aguma is teruggehou hangende die finalisering van die regsprosesse. Regsoptrede is ook ingestel teen maatskappye waaraan kontrakte onreëlmatig toegeken is, asook teen voormalige werknemers wat onreëlmatige, vrugtelose en vermorste uitgawes aangegaan het of toegelaat het, waaronder Motsoeneng.

’n Dagvaarding is teen hom uitgereik vir R21 miljoen vir skade en verliese met betrekking tot ’n beweerde “suksesfooi” wat hy vir sekere transaksies ontvang het.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.