Gesprekke en pogings het begin om ’n oplossing te vind om geld aan die Zondo-kommissie van ondersoek na staatskaping beskikbaar te stel om sy werk te kan afhandel.
So het Chrispin Phiri, woordvoerder van die departement van justisie en korrektiewe dienste, Donderdagmiddag gesê.
Dit volg nadat Ronald Lamola, minister, Woensdagmiddag aan die parlement dié versekering aan Suid-Afrikaners gegee het.
Maar ons sal alles in ons vermoë doen om te verseker dat die kommissie sy mandaat voltooi. Die kommissie het nou al in die omgewing van R800 miljoen bestee. Ons moet verseker dat die kommissie se uitvoering van sy mandaat nie belemmer word nie.
Belastingbetalers het tot dusver R800 miljoen bestee aan dié kommissie onder leiding van adjunkhoofregter Raymond Zondo, het LP’s Woensdag in die parlement gehoor.
Lamola se versekering kom nadat Steve Swart, ’n ACDP-LP, in ’n mondelinge vraag-en-antwoord-sessie aan Lamola gesê het sy party is bekommerd oor die gebrek aan bykomende geld wat Tito Mboweni, minister van finansies, in sy onlangse begrotingsrede aan die kommissie beloof het.
Lamola het in sy antwoord gesê dit is so dat die begrotingsprobleme van die kommissie verdere beperkinge vir die nasionale vervolgingsgesag sal veroorsaak.
“Maar ons sal alles in ons vermoë doen om te verseker dat die kommissie sy mandaat voltooi. Die kommissie het nou al in die omgewing van R800 miljoen bestee. Ons moet verseker dat die kommissie se uitvoering van sy mandaat nie belemmer word nie.”
Van die kommissie se personeel het glo die laaste paar maande nie hul salaris ontvang nie. Die kommissie het nie op ’n versoek om kommentaar gereageer nie.
Volgens Lamola is sy departement tans met die nasionale tesourie in gesprek om te verseker dat die kommissie sy werk kan afhandel.