Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
Gesprekke: 'Begin van opbou van land'

Die vergadering tussen Afrikanerbelangegroepe en die Thabo Mbeki-stigting (TMF) in die Wes-Kaap die afgelope naweek “is die beginpunt van die opbou van ’n land wat besig is om uitmekaar te val”.

Só sê prof. André Duvenhage, ’n politieke ontleder aan die Noordwes-Universiteit (NWU), oor ’n verklaring wat deur 12 Afrikanerbelangegroepe en die Mbeki-stigting onderteken is oor landsprioriteite waaraan dringend aandag gegee moet word.

Van links is Chris Opperman, ouddiplomaat wat gehelp het om die beraad te fasiliteer, Flip Buys, voorsitter van die Solidariteit Beweging, en dr. Vincent Maphai, sakeman en lid van die Thabo Mbeki-stigting. Foto: Verskaf

“Ek beskou die vergadering as histories omdat dit die katalisator is om ’n gesonde balans te vind tussen wit vrese en swart aspirasie. Dit is ook tekenend van die tye waarin ons leef waar die burgery vertroue in politici van die dag verloor het en eerder met mekaar in gesprek tree oor kwessies wat almal raak voordat dit verder eskaleer.

“Dié uitdagings behels onder meer ekonomiese en maatskaplike agteruitgang, onverdraagsaamheid en waar presies die Afrikaner inpas om saam met ander bevolkingsgroepe te werk om die land weer op koers te kry,” sê Duvenhage.

Flip Buys, voorsitter van die Solidariteit Beweging, wat die vergadering in Kaapstad bygewoon het, sê dat baie Afrikaners soos tweedeklas-burgers voel wat nêrens meer hul insette kan lewer of ’n verskil kan maak nie.

Erkenning, ruimte en wedersydse respek is belangrik voordat enige uitdaging gemeenskaplik deur verskillende bevolkingsgroepe aangepak kan word.

“Ek is nie te ooroptimisties of te pessimisties oor die ontmoeting met die Mbeki-stigting nie. Dit is ’n belangrike gesprek wat na ander groepe kan uitkring oor die insluiting van minderheidsgroepe in die land om uitdagings aan te pak,” sê Buys.

Die besprekingspunte op die vergadering was onder meer die ontwikkeling van ’n groeiende, inklusiewe ekonomie deur beleid te verwyder wat ekonomiese herlewing keer; ’n nuwe finansieringsmeganisme vir opkomende en gevestigde boere; die identifisering van suksesvolle landbouprojekte wat as modelle vir sukses kan dien; die bevordering van inheemse tale in skole en ander opvoedkundige instellings; die gevoel van vervreemding en die vertrouensbreuk by Afrikaners; groter insluiting vir minderhede in die politiek en die aanwending van alle beskikbare vaardighede en ervaring om gemeenskappe op te bou.

“Erkenning, ruimte en wedersydse respek is belangrik voordat enige uitdaging gemeenskaplik deur verskillende bevolkingsgroepe aangepak kan word,” sê Buys.

Dr. Theuns Eloff, voorsitter van die Dagbreek-trust, sê die vergadering is deurslaggewend vir die pad vorentoe om gemeenskappe te mobiliseer om onderling saam te werk teenoor om “hande gevou” op die regering te wag om in te gryp.

“Vertroue en samewerking is nodig om ’n beter toekoms te bou. Dit is waarna almal in die land streef,” sê Eloff.

Volgens Kallie Kriel, uitvoerende hoof van AfriForum, is daar op die twee dae lange beraad konsensus bereik dat die regering nie ’n hindernis moet wees in die weg van vooruitgang nie en dat burgerlike organisasies vanuit minderheidsgemeenskappe ook ’n belangrike waghondfunksie het om te vervul om minderhede se belange te beskerm.

“Daar is konsensus bereik dat ons kragte moet saamsnoer om van die grond af op elke lewensterrein saam te werk vir ’n beter toekoms,” sê Kriel.

Meer oor:  Flip Buys  |  Kallie Kriel  |  Theuns Eloff  |  Thabo Mbeki-Stigting  |  Gesprek
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.