Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
Geweld dalk om Cyril te ondermyn?
Betogers tart die polisie voor die hofgebou in Galeshewe, Kimberley. Foto: Charné Kemp

Daar is elemente van die staat wat steeds lojaal teenoor oudpres. Jacob Zuma is en wat betrokke kan wees by die gewelddadige betogings wat Suid-Afrika verlam, sê prof. Hussein Solomon, van die departement politieke wetenskap aan die Universiteit van die Vrystaat (UV).

Hy meen dié elemente wil pres. Cyril Ramaphosa ondermyn. “Hulle wil pres. Ramaphosa se ondergang sien.”

Met 11 protesoptogte wat per dag in Suid-Afrika opvlam en al hoe gewelddadiger raak, waarsku kenners dat dit gaan toeneem en die land tot op breekpunt gaan bring.

Betogings soos dié wat Hermanus en Kimberley weke lank verlam en waar sakeondernemings ten gronde gaan, het amper alledaags geword, sê prof. Theo Neethling, politieke ontleder aan die UV.

“Dit skuif van dorp tot dorp en van stad tot stad en daar is sekerlik nie ’n provinsie waarin dit nie ’n probleem is nie. Selfs die taamlik rustige Noord-Kaap word nou geraak deur die jongste probleme in Kimberley.”

Solomon meen desperaatheid oor verarming en voortdurende korrupsie kan tot die toename in gewelddadige protesoptogte lei. Mense raak meer desperaat omdat hulle “ekonomiese angs” ervaar. Gevalle waar die polisie min doen om onluste te keer, soos die onlangse versperring van die N3, spoor mense aan om meer drasties as voorheen op te tree.

Inwoners van Zwelihle in Hermanus betoog oor grond. Foto: Edrea du Toit

Hy sê daar is kommer dat geweld sal uitkring, veral in die aanloop tot die verkiesing in 2019.

“Die optogte word nie gekoördineer nie en gaan oor plaaslike dienslewering. Wat kan gebeur as ’n politieke party soos die EFF, wat die steun van 7% van die kiesers het, probeer om hierdie optogte te koördineer?”

Solomon dink nie grondhervorming is ’n groot faktor nie.

“Die debat oor grond is ’n dwaalspoor. Fundamenteel gaan dit daaroor dat die ANC sedert 1994 daarin misluk het om werk te skep. Suid-Afrika is in werklikheid besig om te deïndustrialiseer.”

“Te midde van werkloosheid en maatskaplike toelae wat nie met lewenskoste tred kan hou nie, glo armes as hulle ’n stuk grond besit, kan hulle dit gebruik om kapitaal te kry of bestaansgewasse te kweek om hul familie te voed.”

Hy meen niks goeds kan uit die gewelddadige optogte kom nie.

Hy meen niks goeds kan uit die gewelddadige optogte kom nie.

“Die situasie word net erger. Die feit dat Ramaphosa nie die ruggraat het om beleggingsekerheid te herstel of die vakbonde en die Ace Magashules in die regerende party aan te vat nie, sal selfs meer Suid-Afrikaners verarm, wat tot gewelddadiger protesoptogte sal lei.”

Weens die toenemende skuld, die inkrimping van die ekonomie in die eerste kwartaal, die emigrasie van bekwame Suid-Afrikaners, die onvermoë van die staat en die voortslepende teenwoordigheid van korrupte amptenare in staatstrukture, sal ons geen keuse hê as om die IMF of Wêreldbank vir ’n lening te vra nie.

Dít sal ernstige gevolge, soos besuinigingsmaatreëls hê, sê Solomon.

“Gegewe dat slegs 13% van Suid-Afrikaners belasting betaal, wil die regering nie eerlik met Suid-Afrikaners wees oor die feit dat ons nie maatskaplike toelae vir 17 miljoen ontvangers kan volhou nie.”

Verder kan ons nie buitelandse beleggers trek as ons voortgaan met grondonteiening sonder vergoeding nie.

Dit het ’n uitkringeffek in ander sektore wat verder as landbou strek, waarsku hy.

“Ons kan nie plaaslike maatskappye lok om te belê as geregtigheid nie verseker kan word en korrupsie in die kiem gesmoor kan word nie. Mense kan nie in senior regeringsposte aangestel word op grond van wie hulle ken en nie hul vaardighede nie. Om hierdie redes lyk die toekoms droewig en ons almal moet bekommerd wees.”

Meer oor:  Cyril Ramaphosa  |  Geweld  |  Protesoptogte
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.