Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
Geweld teen vroue en kinders: 16 dae van aktivisme begin

Op dieselfde dag wat die eerste dag van die 16 dae lange veldtog teen geslagsgeweld en geweld teen kinders begin het, het die ANC in Mpumalanga sy besluit verdedig om ’n voormalige LUR in dié provinsie wat van verkragting aangekla word, weer in sy provinsiale uitvoerende komitee aan te stel.

Die ANC in Mpumalanga sê totdat die nasionale uitvoerende komitee (NUK) nie duidelikheid gegee het of sy verteenwoordigers wat van ernstige misdade aangekla word, moet terugstaan uit hul poste nie, kan die LUR nie gekeer word om aan ANC-aktiwiteite deel te neem nie, berig EWN.

Die NUK vergader dié naweek en dié omstrede kwessie sal dan bespreek word. Daar is groot verdeeldheid in die party hieroor.

Geweld teen vroue is Woensdag opnuut uit verskeie oorde veroordeel.

Adj.pres. David Mabuza het die veldtog amptelik begin toe hy by die Uniegebou in Pretoria ’n vlam van herinnering vir die slagoffers van geweld teen vroue en kinders aan die brand gesteek het.

Die nasionale seremoniële wag van die weermag het ook by dié geleentheid opgetree.

Thandi Modise, speaker van die Nasionale Vergadering, en Amos Masondo, voorsitter van die Nasionale Raad van Provinsies, het in ’n verklaring van die parlement daarop gewys dat pres. Cyril Ramaphosa geweld teen vroue en kinders al as ’n pandemie en ’n siekte beskryf het.

Adj.pres. David Mabuza steek Woensdagoggend by die Uniegebou die vlam ter herinnering van die slagoffers van geweld teen vroue en kinders aan. Dit is deel van die veldtog van 16 dae van aktivisme teen dié geweld. Foto: GCSI

Met die streng staat van inperking met die Covid-19-pandemie het die voorkoms van geslagsgeweld toegeneem omdat baie slagoffers saam met die oortreders in ’n huis vasgekeer was.

Baie van die mans wat hulle aan dié geweld skuldig gemaak het, is familie of vriende van die slagoffers.

“Ons kan nie die feit ignoreer dat geslagsongelykheid die gevolg is van patriargie nie. Dit is die primêre rede vir geslagsgeweld,” sê Modise.

Daar moet dringend aandag gegee word aan dié kwessie “sodat die mans van môre besef” hul geslag gee nie aan hulle toestemming om vroue en kinders te mishandel nie.

“Vroue moet nie alleen geslagsgeweld beveg nie. Mans moet ook deel wees van die oplossing,” sê Modise.

Die parlement is besig om drie stuks wetgewing te finaliseer waarmee die fenomeen van geweld teen vroue en kinders hokgeslaan kan word.

John Steenhuisen, DA-leier, sê die toenemende geweld is kommerwekkend.

Tot 51% van vroue het tydens die inperking onder geslagsgeweld deurgeloop.

Vroue moet nie alleen geslagsgeweld beveg nie. Mans moet ook deel wees van die oplossing.

Die veldtog daarteen moet 365 dae per jaar duur en nie net 16 dae nie.

Die Suider-Afrikaanse Ontwikkelingsgemeenskap, die vakverbond Cosatu, die Demokratiese Verpleegstersvereniging van Suid-Afrika (Denosa), die Heilsleër en die EFF het onder meer ook geslagsgeweld verwerp.

• Die EFF het saam met Portia Modise, ’n voormalige kaptein van Banyana Banyana, ’n optog na die kantore van die Suid-Afrikaanse Sokkervereniging (Safa) in Johannesburg teen seksisme gelei.

Hulle dring daarop aan dat die vrouespelers dieselfde salaris as dié van Bafana Bafana kry.

“Ons speel beter as Bafana Bafana,” het Modise gesê.

“Ek is beter as Pelé, want Pelé het nooit 100 doele aangeteken nie. Mense is oningelig omdat ek ’n vrou is,” het sy volgens die EFF gesê.

Meer oor:  David Mabuza  |  Pretoria  |  Geweld  |  Kinders  |  Vroue
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.