Al die nuwe wette en beleid wat regerings instel teen geweld teen vroue en kinders, is nie genoeg om van dié euwel ontslae te raak nie.
Alle sektore van die samelewing se samewerking is nodig om dié geweld te beëindig, sê pres. Cyril Ramaphosa in sy jongste nuusbrief.
Die 16-dae-veldtog van aktivisme teen geslagsgeweld begin Woensdag en duur tot 10 Desember wanneer internasionale Menseregtedag gevier word.
Ramaphosa skryf volgens navorsing wat in 2017 gedoen is, kos geslagsgeweld Suid-Afrika se ekonomie jaarliks tussen R28 miljard en R42,4 miljard.

Pres. Cyril Ramaphosa
Dit sluit in die koste van die maatskaplike dienste, plekke van veiligheid en gesondheidsorg.
“Ondanks al die openbare steun vir die veldtog (teen geslagsgeweld) en ander soortgelyke veldtogte is ons nog ver weg van ’n wêreld sonder seksisme, diskriminasie en geweld teen vroue en kinders.
“Dit is ons almal se verantwoordelikheid, as individue en gemeenskappe, om die ware verandering wat ons so nodig het, teweeg te bring.
Ons salueer die buurvrou wat haar huis oopmaak vir ’n kwesbare ma en haar kinders; die medewerkers wat die slagoffers van geslagsgeweld na die hospitaal vergesel; en die vriende wat ingryp en nie net toekyk hoe ’n vrou of ’n kind mishandel word nie.
“Daar moet ’n fundamentele verandering in die openbare ingesteldheid wees wat seksisme, chauvinisme en patriargie laat gedy,” sê hy.
Ramaphosa gee ook erkenning aan die werk van onskatbare waarde wat mense buite die regering doen in die stryd teen geslagsgeweld.
Dit sluit in maatskaplike werkers, sielkundiges, huismoeders en raadgewers. Daar is baie mense betrokke wat nie betaal word vir wat hulle doen nie en hul dienste vrywillig aanbied.
“Ons salueer die buurvrou wat haar huis oopmaak vir ’n kwesbare ma en haar kinders; die medewerkers wat die slagoffers van geslagsgeweld na die hospitaal vergesel; en die vriende wat ingryp en nie net toekyk hoe ’n vrou of ’n kind mishandel word nie,” skryf Ramaphosa.
Met die inperking het nieregerings- en gemeenskapsorganisasies ’n groot rol gespeel om ondersteuning te lewer aan kwesbare vroue en kinders.