Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
Geweld teen vroue ’n klad op SA – Ramaphosa

Vroue is nie in hul eie huis veilig nie. Nie van vreemdelinge of van mans wat hulle goed ken nie.

So het pres. Cyril Ramaphosa Dinsdag gereageer op die onlangse moorde op die Kaapse student Uyinene Mrwetyana en die Suid-Afrikaanse bokskampioen Leighandre Jegels.

President Cyril Ramaphosa in Parliament ahead of t
President Cyril Ramaphosa. (Gallo Images/Sowetan/Esa Alexander)

“Ons behoort ons koppe in skaamte te laat sak. Ons het pas Vrouemaand gedenk, 63 jaar nadat vroue betoog het vir die reg om in vryheid te leef. Nou leef vroue in vrees, nie van die apartheidspolisie nie, maar in vrees vir hul pa’s, broers en ooms en seuns,” het Ramaphosa in ’n verklaring gesê.

Mrwetyana se vermeende moordenaar het Maandag in die landdroshof in Wynberg, Kaapstad verskyn waar die saak tot in November uitgestel is. Hy het na bewering ’n bekentenis aan die polisie gemaak en gesê hy het haar in die poskantoor verkrag en vermoor.

In Oos-Londen is Jegels die afgelope naweek na bewering deur haar vervreemde kêrel, wat glo ’n polisiebeampte was, vermoor. Hy is later in die hospitaal dood.

Sondag is die lyk van ’n 14-jarige meisie in die agterplaas van ’n huis in Samora Machel, Kaapstad, gevind. Niemand is al in verband hiermee in hegtenis geneem nie.

“Die moorde is ’n kil herinnering dat vroue in Suid-Afrika nie op straat of selfs in hul eie huis veilig is nie,” sê Ramaphosa.

Uyinene Mrwetyana (19) is glo in die poskantoor verkrag en vermoor.Foto: Verskaf

“Hierdie is ’n baie donker tyd in ons land. Die moorde en verkragtings van vroue is ’n klad op ons land se bewussyn.”

Die president het vanjaar ’n verklaring oor geslagsmisdade onderteken, waarin hy sê dat spesiale aandag aan die inwerkingstelling van ondersteuningsprogramme en plekke van veiligheid gegee word.

Mmusi Maimane, DA-leier, het ook sy besorgdheid oor die moorde uitgespreek.

Hy het gesê hierdie voorvalle is ongelukkig nie die eerste in hul soort nie.

“Van Courtney Pieters tot Karabo Mokoena. Valencia Farmer tot Meghan Cremer. Hierdie dogters van ons nasie moes beskerm gewees het en nie gejag geword het nie.”

boxing
Leighandre Jegels

As iets drasties nie gedoen word nie, sal hierdie egter ook nie die laaste van hierdie aanvalle wees nie, het Maimane Dinsdag in ’n verklaring gesê.

Volgens hom is 40 000 mense in 2018 in Suid-Afrika verkrag. “Dit beteken sowat 109 mense word per dag verkrag.”

Maimane het gesê die oorsaak van hierdie misdade moet aandag kry. Hy meen ook dat die vlaag betogings in die land ’n teken van ekonomiese en maatskaplike verbrokkeling is.

Hy het ’n beroep op Ramaphosa gedoen om dadelik op te tree.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.