Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
Gigaba-adviseur onthou ‘drama oor Gama’, maar nie veel meer

Wat hy onthou is: “Daar was drama oor Gama.”

Maar verder het ’n spesiale raadgewer van oudminister Malusi Gigaba probleme met sy geheue oor die tyd toe die omstrede Siyabonga Gama deur Transnet as ’n uitvoerende bestuurslid heraangestel is.

Dié raadgewer, Siyabonga Mahlangu, het Vrydag voor die Zondo-kommissie van ondersoek na staatskaping getuig hy is op 1 Desember 2010 as Gigaba se spesiale raadgewer aangestel.

Dit het gevolg nadat Gigaba op 1 November 2010 deur oudpres. Jacob Zuma as minister van openbare ondernemings aangestel is nadat hy oudminister Barbara Hogan uitgeskop het.

Siyabonga Gama

Dit was ’n baie besige tyd. Kort nadat Gigaba as minister aangestel is, het hy ’n nuwe direksie vir Transnet aangestel. Boonop is Gama – wat in daardie stadium afgedank was weens sy onreëlmatige goedkeuring van twee tenders en omdat hy die Transnet-direksie en uitvoerende bestuur van sameswering teen hom beskuldig het – weer vroeg in Februarie 2011 heraangestel met ’n skikkingsbetaling van R17 miljoen.

Maar Mahlangu het Vrydag erken hy sukkel om besonderhede te onthou en sê dit was nege jaar gelede.

Mahlangu het in sy eerste beëdigde verklaring wat hy vir die kommissie afgelê het, vergeet om melding te maak van twee e-posse wat hy aan Gigaba gestuur het oor die heraanstelling van Gama. Mahlangu sê dit was nie sy bedoeling om die kommissie te mislei nie. Die oomblik toe hy die e-posse ontdek het, het hy dit in ’n aanvullende beëdigde verklaring aan die kommissie genoem.

In een van dié twee e-posse sê Mahlangu aan Gigaba dat hy Zuma moet inlig oor die heraanstelling van Gama. “Ek weet nie hoekom ek dit gedoen het nie, maar as ek daaraan terugdink, moes dit wees oor die openbare belangstelling in die saak,” het Mahlangu getuig.

Volgens hom het hy geen kennis van kommunikasie tussen Gigaba en Zuma oor Gama se heraanstelling nie.

In die e-pos aan Gigaba waarsku Mahlangu dat die “drama oor Gama bestuur sal moet word”.

Mahlangu het nie in sy eerste beëdigde verklaring aan die kommissie genoem dat hy raad aan Gigaba gegee het oor die Gama-kwessie nie. Sy getuienis hieroor is dat hy dit nie toe onthou het nie.

Adv. Anton Myburgh SC, getuienisleier van die kommissie, het dit aan Mahlangu gestel wat ’n mens weet is dat Gigaba op 1 November as minister in Hogan se plek aangestel is. Daarna is die nuwe Transnet-direksie in Desember deur Gigaba aangestel. Gama is enkele maande later teen einde Februarie heraangestel en ’n paar jaar later word hy as uitvoerende hoof van Transnet aangestel.

Van watter deel van die omstredenheid was Mahlangu bewus voordat hy op 1 Desember Gigaba se spesiale raadgewer geword het?

Mahlangu se antwoord hierop was hy onthou daar was ’n klomp nuus oor Gama en hy kan sê hoekom hy dit as ’n drama beskou het. Hy onthou Gama het in daardie stadium daarop aangedring dat hy heraangestel word.

“Alles was ’n kombinasie van ingewikkelde politieke en regskwessies. Na my mening moes Gigaba versigtig hiermee te werk gaan en ek sou dit waarskynlik so aan hom genoem het. Dit is hoekom ek nie druk sou uitoefen dat Gama heraangestel word nie,” het Mahlangu getuig.

Ek het nie persoonlike belang daarby gehad dat Gama heraangestel moes word nie.

Mahlangu is ook gevra oor die getuienis van Siyabulela Mapoma, wat vantevore ’n hoofbestuurder in Transnet se interne regsafdeling was, dat hy ’n oproep van Mahlangu ontvang het oor die heraanstelling van Gama en dat Mahlangu gesê het daar is kommer by die ministerie en die presidensie dat dit so lank neem om Gama weer aan te stel. Volgens dié getuienis het Mahlangu druk uitgeoefen op Mapoma dat Gama heraangestel word.

Mahlangu het die bewering ontken. “Ek het nie persoonlike belang daarby gehad dat Gama heraangestel moes word nie,” volgens Mahlangu.

Hierop het Myburgh gesê dit gaan nie oor sy persoonlike belang nie, dit gaan oor Gigaba se persoonlike belang. Hy het dit aan Mahlangu gestel dat hy nie een rede kan gee waarom Mapoma hieroor sou lieg nie.

Myburgh het dit verder aan Mahlangu gestel die heraanstelling van Gama kon net die gevolg gewees het van politieke inmenging.

“Ek kan nie daarop antwoord nie,” het Mahlangu geantwoord.

Meer oor:  Siyabonga Gama  |  Transnet  |  Zondo-Kommissie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.