Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
Gigaba hou glad nie van vraag oor sy integriteit

Beskou jy jouself as ’n mens van integriteit?

Dié vraag Donderdagaand aan oudminister Malusi Gigaba voor die Zondo-kommissie van ondersoek na staatskaping het hom nié aangestaan nie.

JOHANNESBURG, SOUTH AFRICA - MARCH 12: Former Mini
Malusi Gigaba Donderdag voor die Zondo-kommissie. Foto: Gallo Images

Gigaba het uitgevaar oor die vraag van adv. Anton Myburgh SC, getuienisleier van die kommissie, en gesê hy dink nie Myburgh het die reg om so ’n vraag aan hom te stel nie.

Adjunkhoofregter Raymond Zondo, voorsitter van die kommissie, het tussenbeide getree en gesê die getuienisleier het wel die reg om so ’n vraag te vra om te bepaal of ’n getuie leuens vertel indien daar verskillende weergawes gestel word wat in konflik met mekaar is. Hy mag vrae stel om lig hierop te werp.

Zondo het dit aan Gigaba gesê dat hy hierop kan antwoord en dan sy weergawe kan gee vir waarom hy dink daar nie gronde is vir iemand om so te dink nie.

Gigaba se antwoord was: “Ek is eerlik.”

Zondo het hierop gesê in ’n forum soos dié (’n kommissie van ondersoek) moet ’n getuie dit nie persoonlik opneem nie en dat iemand soos Gigaba wat vir lank ’n parlementslid was, nie so iets persoonlik behoort op te neem nie.

“Julle sê allerlei goed vir mekaar,” het Zondo gesê.

Hierna het Myburgh dit aan Gigaba gestel dat sy vervreemde vrou, Norma Mngoma, se getuienis voor die kommissie is dat sy nié daar getuig het omdat sy en Gigaba op skei staan nie, maar omdat dit haar siviele plig as burger is.

Gigaba het geantwoord dat as dit die geval was, sy nie so voor die kommissie sou gelieg het nie. Dit is sy mening dat haar getuienis wel verband hou met hul egskeiding, anders sou dit nie so prominent genoem word voor die kommissie nie.

Myburgh het Mngoma se bewering aan Gigaba gestel dat hy ’n IT-kundige na hul huis laat kom het en haar gevra het om al haar elektroniese toestelle te oorhandig sodat al die bewyse van Malusi se besoeke aan die Guptas en hul buitelandse reise daarvan uitgewis kon word.

Ek is eerlik.
Malusi Gigaba

Gigaba het geantwoord hy daag Mngoma uit om die identiteit van die sogenaamde IT-kundige te gee, want daar was nie so ’n persoon nie. Hy het gevra dat haar bewering hieroor met die “minagting hanteer word as wat dit verdien”.

Hy het getuig Mngoma is ’n baie openbare persoon en plaas al haar foto’s op Instagram.

“Waarom sal ’n mens dit van haar toebehore afvee? Al haar foto’s is op Instagram.”

Hy het aangevoer Mngoma was kwaad en sy het altyd gesê dat sy hom “sal verwoes”.

Gigaba het gesê Mngoma het haar datums verkeerd in haar getuienis voor die kommissie omdat sy leuens vertel.

Oor die keer toe twee lede van die Valke by hul huis het op haar elektroniese toebehore beslag gelê, het Gigaba gesê Mngoma se naam is genoem as iemand wat deel was van ’n komplot om hom dood te maak. Hy neem aan dit is die tipe ding wat die polisie doen om so ’n ernstige bewering te ondersoek dat sy betrokke was by so ’n komplot.

Donderdagaand se sitting moes vroeër verdaag as wat beplan is sodat almal die geleentheid kon kry om betyds by die huis te wees voordat die aandklokreël om 22:00 in werking tree.

Gigaba getuig Vrydag verder.

Meer oor:  Malusi ­Gigaba  |  Staatskaping  |  Zondo-Kommissie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.