Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
Gigaba ‘kaap’ tesourie met eie amptenare

Senior regeringsamptenare sê Malusi Gigaba, minister van finansies, is besig om die tesourie te kaap deur die mag van sy direkteur-generaal te verwater en ’n parallelle administrasie te skep wat deur sy vertrouelinge beheer word.

Malusi Gigaba

Verskeie senior amptenare in die tesourie en twee ander topregeringsamptenare het aan City Press gesê Gigaba, wat ’n gereelde gas by die Guptas se huis in Saxonwold was, is besig om die tesourie te stuur in ’n rigting wat radikaal verskil van dié van sy voorgangers.

Dit sluit dié bewerings in:

  • Gigaba sleep voete met die aanstelling van ’n maatskappy om ’n forensiese oudit te doen van Eskom se steenkoolkontrakte met Tegeta Exploration and Resources, wat tot Augustus aan die Guptas en pres. Jacob Zuma se seun Duduzane behoort het.
  • Gigaba het meer as 20 personeellede saam met hom gebring wat parallelle administrasie in sy kantoor bedryf.
  • Hy konsulteer nie adjunk-direkteurs-generaal en ander tegnokrate oor sy besluite nie.
  • Belangrike dokumente word aan Gigaba se stafhoof, Saki Mofokeng, sy regsadviseur, Kholeka Gcaleka, en sy politieke adviseur, Thamsanqa Msomi, gestuur vir kommentaar nog voordat die direkteur­generaal in die tesourie, Dondo Mogajane, dit gesien het.

Msomi, ’n lid van die Denel-raad, is glo na aan die Gupta-familie. Sy raad het die tesourie in Maart hof toe gevat omdat die tesourie geweier het om toestemming te gee vir ’n gesamentlike onderneming tussen VR Laser, wat Gupta-bande het, en Denel.

Verskeie senior tesourieamptenare het gesê hulle wou aanvanklik bedank toe Pravin Gordhan as minister van finansies afgedank is.

Verskeie senior tesourieamptenare het aan City Press gesê hulle wou aanvanklik bedank toe Pravin Gordhan as minister van finansies afgedank is. Hulle het egter in hul poste gebly om hul werk voort te sit vir so lank moontlik.

Die adjunk-direkteurs-generaal is volgens die bronne nie geken voordat die reddingsboei van R3 miljard Vrydag aan die SAL toegeken is nie.

Vroeër vandeesmaand is Gigaba daarvan beskuldig dat hy probeer om ontslae te raak van amptenare wat na aan Gordhan was toe hy Schalk Human van sy pos as waarnemende hoof van verkryging onthef het. Hy is vervang deur Willie Mathebula.

Jayce Nair, waarnemende rekenmeester-generaal, is vervang met Zanele Mxunyelwa.

Anoj Singh

Gigaba se woordvoerder het dié aantygings ontken.

Nog ’n bron sê die doel is “om ’n gedweë tesourie te hê; wat maar net besluite toepas van wie ook al deesdae die besluite neem – goed of sleg, reg of verkeerd, bekostigbaar of onbekostigbaar”.

Die werk wat die tesourie gedoen het om ander sektore van die regering, die staatsdepartemente en die staatsbeheerde maatskappye verantwoordbaar te hou vir hul gebruik van openbare geld, het as’t ware tot stilstand gekom, sê die bron.

Die kabinet het vroeër vandeesmaand aangekondig dat die proses van begrotingstoewysing volgende jaar van die tesourie na die presidensie verskuif word.

Dié proses is glo in 2015 begin toe Nhlanhla Nene, voormalige minister van finansies, afgedank is.

Die bronne sê hoewel Gigaba nié dié skuif geïnisieer het nie, is dit ’n voorbeeld van hoe die tesourie gekaap is.

Die skuif sal beteken die tesourie se hande is afgekap en daar sal geld wees vir alles wat Zuma wil hê, sê ’n tesourieamptenaar.

Die begrotingsproses vereis hoogs tegniese navorsing waarvoor daar nie kapasiteit by die presidensie is nie, sê die amptenaar.

Nog ’n senior amptenaar sê die verskuiwing van die begrotingsproses is aanduidend van desperaatheid en sal vereis dat die Grondwet en die Wet op die Bestuur van Openbare Finansies verander word.

Maar ’n ander tesourieamptenaar met wie City Press gepraat het, sê Gigaba is sterk gekant teen die verskuiwing.

“Julle noem hom ’n Gupta-ontplooide, maar ek kan vir jou sê hulle is baie ontevrede met hom omdat hy weier om sekere van die dinge te doen wat hulle van hom gevra het,” sê hy.

“Julle het dalk gehoor sy naam is op ’n lys van ministers wat verwyder gaan word. Dit is waar.”

Die bron het ook gesê dit was Gigaba wat aangedring het op die amptelike skorsing van Anoj Singh, finansiële hoof van Eskom, oor sy Gupta-bande.

“Gigaba sou lankal wou sien dat Dudu Myeni as voorsitter van die SAL afgedank word.”

Mayihlome Tshwete, Gigaba se woordvoerder, sê hy het net 17 personeellede saam met hom na die tesourie gebring.

Tshwete ontken ook ten sterkste dat Gibaba toelaat dat die tesourie “gekaap” word.

“Ons neem aanstoot en ons behou ons regte voor as enige bewerings gemaak word wat insinueer dat daar misdadigheid is,” het hy gesê.

Oor bewerings dat Mofokeng, Gcaleka en Msomi alle tesourie-dokumente oorweeg, sê Tshwete: “Geen departemente werk só nie. Die departement se personeel rapporteer aan die minister en die tesourie se personeel rapporteer aan die DG.

“Dit is hoe alle departemente funksioneer en dit is hoe die minister se voorgangers gewerk het.”

Hy ontken ook dat die minister nie die adjunk-direkteurs-generaal konsulteer nie.

Meer oor:  Malusi ­Gigaba  |  Tesourie  |  Guptas
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.