Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
Gigaba kla Transnet se wit bestuurders beter behandel

Wit bestuurslede by Transnet doen baie erger dinge verkeerd as wat Siyabonga Gama gedoen het, maar hulle word nie afgedank nie, het oudminister Malusi Gigaba glo aangevoer as ’n rede vir waarom Gama heraangestel moes word.

Dít was Vrydag die getuienis van Mafika Mkwanazi, voormalige voorsitter van die Transnet-direksie van Desember 2010 tot einde 2014, voor die Zondo-kommissie van ondersoek na staatskaping.

Mkwanazi het getuig dat Gigaba in Oktober 2010 met hom vergader het. Dit was ’n maand voordat Gigaba op 1 November 2010 as minister van openbare ondernemings aangestel is nadat oudpres. Jacob Zuma vir Barbara Hogan uitgeskop het.

Volgens Mkwanazi het Gigaba in hul gesprek gesê dat tugprosesse in Transnet op ras gegrond is.

Adjunkhoofregter Raymond Zondo, voorsitter van die kommissie, het dit aan Mkwanazi gestel dit klink vir hom asof Gigaba geïmpliseer het indien Gama wit was, sou hy nie afgedank gewees het nie.

Malusi Gigaba, voormalige minister van binnelandse sake wat Dinsdag onder ’n wolk bedank het. Foto: Bloomberg/Getty Images

Mkwanazi het geantwoord dit is korrek.

Adv. Anton Myburgh SC, getuienisleier van die kommissie, het gevra of Mkwanazi kan bevestig of hulle in Oktober 2010 vergader het nog voordat Gigaba die minister geword het, waarop Mkwanazi dit bevestig het.

Myburgh het uitgewys dat Mkwanazi in sy beëdigde verklaring aan die kommissie genoem het dat Gigaba op een of ander manier geweet het daar is probleme met die tenderprosesse van Transnet se mega-projekte. Myburgh het gevra of dit Mkwanazi verras het dat Gigaba dié inligting gehad het.

Mkwanazi het hierop geantwoord nee, dit het hom nie verras nie. Hy sê miskien was van die inligting reeds in die media, of miskien het hy interne inligting van binne Transnet gekry oor wat met die verkrygingsprosesse aangaan.

Myburgh het gevra of dit ook in die media was dat Zuma ’n toegewyde ondersteuner van Gama was, waarop Mkwanazi bevestigend geantwoord het.

Volgens Myburgh het Gama ook geweet daar bestaan ’n interne proses in Transnet waarvolgens amptenare kwytgeskeld kan word. “Hy het baie geweet van Transnet?”

Mkwanazi het geantwoord Myburgh moet weet hoe staatsentiteite werk. “Hulle werk op baie vreemde maniere.

“Binne hierdie entiteite het van die ministers informante. Veral die groot staatsentiteite soos Transnet en Eskom, en ek weet nie wie nog nie. Gigaba kon selfs die inligting van Gama self gekry het.”

Zondo het hierop gevra bedoel Mkwanazi dat daar mense in die verskillende staatsentiteite is wat ’n minister sou inlig oor wat daar aangaan.

Binne hierdie entiteite het van die ministers informante. Veral die groot staatsentiteite soos Transnet en Eskom, en ek weet nie wie nog nie. Gigaba kon selfs die inligting van Gama self gekry het.

Mkwanazi het geantwoord Zondo moet verstaan, van die ministers en parlementslede het besighede wat belange het in die staatsentiteite, so hulle het ’n belang in tendergeleenthede.

Zondo het hierop begin lag en aan Mkwanazi gesê natuurlik was Mkwanazi betrokke by verskeie staatsentiteite in verskillende kapasiteite en op verskillende tye, so “hy weet waarvan hy praat”.

Mkwanazi het geantwoord dit is korrek.

“So, baie ministers het besighede en sal kyk na tendergeleenthede in die verskillende staatsentiteite?” het Zondo weer gevra.

Hierop het Mkwanazi weer geantwoord dit is korrek.

Werknemers by staatsentiteite is “vreemde diere” wat soms direkte lyne het na ministers, wat hy nie eens het nie, het hy gesê.

Die kommissie hoor vandeesweek, asook aanstaande week, getuienis aan oor Transnet en onder meer hoe Gama eers afgedank en toe weer heraangestel is.

Meer oor:  Transnet  |  Zondo-Kommissie  |  Malusi Gigaba
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.