Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
Gigaba se inmenging by SAL was ‘uiters vreemd’

Malusi Gigaba wou met alle mag van die Suid-Afrikaanse Lugdiens (SAL) se direksie onder voorsitterskap van Cheryl Carolus in 2012 ontslae raak omdat hulle nie dié lugdiens se belowende Mumbai-roete aan die Gupta-verwante Jet Airways wou oorgee nie.

Én omdat die direksie nie die nou voortvlugtige Gupta-familie se The New Age-koerant voorkeurbehandeling wou gee nie.

Cheryl CarolusFoto: FELIX DLANGAMANDLA

Dít was Donderdag die kruks van Carolus se getuienis voor die Zondo-kommissie van ondersoek na staatskaping in Johannesburg.

Sy was van 2009 tot haar bedanking in 2012 die SAL-voorsitter. Sy is ook ’n anti-apartheidstryder en voormalige adjunk-sekretaris-generaal van die ANC.

Gigaba het vroeër vandeesmaand ná ’n rits verdoemde professionele en persoonlike skandale as minister en ANC-LP bedank.

Carolus het in 2009 die SAL-voorsitter geword toe Barbara Hogan minister van openbare ondernemings was. Hogan het onlangs ook voor die Zondo-kommissie getuig hoe oudpres. Jacob Zuma haar ook afgedank het omdat sy ook nie aan Gupta-eise wou toegee nie.

Gigaba, wat Carolus as ’n Zuma-vertroueling beskryf, het Hogan vervang.

Volgens Carolus het die SAL-direksie onder Hogan reeds ’n regrukstrategie vir die toe reeds sukkelende SAL ontwikkel.

Carolus het verder getuig hoe “uiters vreemd” dit was dat Gigaba weke ná sy aanstelling regstreeks probeer inmeng het deur SAL te probeer oorreed om sy roete van Johannesburg na Mumbai, Indië, te stop en aan Jet Airways te gee.

Malusi GigabaFoto: DEAAN VIVIER

Dit is een van Jet Airways se vliegtuie wat in 2013 op die Waterkloof-lugmagbasis met Gupta-bruilofgaste geland het.

Sy het getuig hoe Gigaba as minister ook twee vergaderings met die SAL gereël het waarin Jet Airways se president, sowel as Gigaba se spesiale raadgewer, onverpoos die SAL-direksie oor die Mumbai-roete aangeval het. Gigaba het daartydens niks gesê nie.

Carolus het ook getuig hoe dieselfde spesiale raadgewer in ’n ander vergadering met die departement se direkteur-generaal onsuksesvol gepoog het dat die SAL-direksie voorkeurbehandeling aan die toe nog splinternuwe The New Age gee.

Volgens Carolus het Gigaba ook openlik in 2012 in die parlement gelieg oor die SAL se finansiële verslae. Dit het daartoe gelei het dat sy en sewe ander direksielede op 27 September 2012 bedank het.

Volgens haar was dit deel van Gigaba se plan om ’n meer buigsame direksie aan te stel om aan sy eise te voldoen.

Sy het Gigaba se optrede as “irrasioneel en onverklaarbaar” en duidelik vyandig teen die SAL-direksie beskryf.

“Ek kon dit nie verstaan nie, omdat Gigaba as die ANC-jeugliga se president destyds intellektueel baie skerp was. Dit het nie sin gemaak nie. Dit was malligheid. Aanvanklik het ek dit afgemaak as hoe politici maar optree, maar dit het later vreemd en onverklaarbaar geword.”

Carolus het gesê soos staatskaping die afgelope jare duideliker geword het, het Gigaba se optrede al hoe meer sin gemaak.

“Van sy leefstyl en allerhande ander dinge. Ek wil nie kleinlik wees nie. Ek het hom egter destyds (in die ANC-jeugliga) leer ken as ’n jong man met ’n uitstekende intellek, met absolute morele integriteit, beskeie, nederig en as die toonbeeld van hoe ANC-jeugligapresidente van die toekoms moet wees.

“Hy is nie dom nie. Daarom moes alles berekend gewees het. Dit is hartseer hoe hy ontaard het, want dit is baie duidelik dat hy sentraal staan in baie wandade wat in baie staatsentiteite gepleeg is,” het Carolus gesê.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.