Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
Gigaba se vervreemde vrou Vrydag voor Zondo
Malusi Gigaba en sy nou vervreemde vrou, Norma Mngoma, by ’n staatsrede in die parlement in Kaapstad. Foto: Jaco Marais

’n Sportsak vol R200-note agter in ’n kattebak. Modieuse pakke klere wat na bewering met Gupta-geld in Sandton gekoop is. En ’n vervreemde vrou wat sê sy gaan die Zondo-kommissie van ondersoek alles vertel wat sy van staatskaping weet.

Dit is waarvoor die kommissie hom moontlik kan voorberei wanneer Norma Mngoma, vervreemde vrou van Malusi Gigaba, voormalige minister van finansies, Vrydag voor die kommissie getuig.

Mngoma, het verlede jaar ’n nag in die Brooklyn-polisieselle deurgebring nadat die Valke ontbied is om haar by die eertydse glanspaar se huis in Waterkloofrif, Pretoria, in hegtenis te neem.

Sy het reeds aangedui dat sy bereid is om te vertel hoe Gupta-geld na bewering hul luukse lewenstyl gefinansier het. Die egpaar was ’n gunsteling onder modebewustes, en hul uitrustings vir die jaarlikse staatsrede in die parlement het telkens die kollig gesteel.

Die getuienis van Getuie 3 voor die Zondo-kommissie. Foto: statecapture.org.za

Die Zondo-kommissie, onder leiding van adjunkhoofregter Raymond Zondo, het Donderdag in ’n kennisgewing oor wie Vrydag op die lys van getuies is, aangedui dat Mngoma sal getuig.

Gigaba se aansoek om haar te kruisondervra sal ook aangehoor word.

Die glanspaar se skeiding was ’n baie openbare gebeurtenis toe die Valke Mngoma op klagte van opsetlike saakbeskadiging en crimen injuria, wat deur onder andere Gigaba teen haar ingedien is, in hegtenis geneem het.

Getuienis van Getuie 3 voor die Zondo-kommissie. Foto: statecapture.org.za

Dit was ná ’n voorval waarin sy na bewering ’n peperduur Mercedes-Benz G-Wagon met talle krapmerke beskadig het.

Ná haar inhegtenisneming is beslag gelê op haar elektroniese toestelle (drie selfone, ’n skootrekenaar en ’n iPad) wat later aan haar teruggegee is.

Die klagte teen Mngoma is op 26 Maart ná ’n besluit deur die Nasionale Vervolgingsgesag in die streekhof in Pretoria teruggetrek, waarna sy beweer het Gigaba die saak gefabriseer om haar te intimideer en stil te maak.

Sy het verder aangevoer dat Gigaba bloot toegang tot haar elektroniese toestelle wou hê om inligting oor die staatskaping te verwyder “sodat hy kon wegkom met wat hy doen”.

Mngoma het in ’n onderhoud met die TV-nuuskanaal eNCA beweer dat hy gereeld met sakke vol geld by die huis opgedaag het. Wanneer sy hom glo hieroor uitgevra het, het hy glo net gesê dit was vir ’n guns, of dat dit ’n geskenk van die Guptas was.

Gigaba het glo die geld gebruik om sy leefstyl te finansier en ook om hul troue en wittebrood mee te betaal, beweer Mngoma.

In 2014 het die glanspaar Malusi Gigaba en Norma Mngoma in dié uitrustings op die rooi tapyt verskyn. Foto: Lulama Zenzile

Talle getuies voor die kommissie het Gigaba reeds by bewerings van staatskaping en samewerking met die Guptas betrek.

Een getuie, wie se identiteit beskerm word en slegs as Getuie 3 voor die kommissie geïdentifiseer is, beweer dat hy Gigaba as persoonlike veiligheidswag vir regeringslui rondgery het.

Getuie 3 het verlede jaar getuig dat hy Gigaba tussen Julie en Desember 2013 na die Guptas se huis in Saxonwold, Johannesburg, geneem het. Ses keer saam met ’n tweede ondersteuningsvoertuig as lid van Gigaba se veiligheidspan en die sewende keer het hy Gigaba self daarheen geneem.

Gigaba het glo op hierdie geleentheid vir hom gesê hy moet dit nie aanteken nie.

Getuie 3 beweer dat Gigaba soms groot hoeveelhede kontant by hom gehad het, en dat hy op ’n keer ’n sportsak vol R200-note in die kattebak van Gigaba se motor gesien het. Hy was glo ook teenwoordig toe Gigaba in Sandton kontant vir ’n paar pakke klere betaal het.

Gigaba se regsverteenwoordiger, adv. Richard Solomon SC, het namens sy kliënt die aantygings ontken.

Oudpres. Jacob Zuma het Gigaba in 2010 aangestel as minister van openbare ondernemings nadat hy Barbara Hogan uit haar amp geskop het. Hy was tot 2014 die minister van openbare ondernemings, waarna Zuma hom as minister van binnelandse sake aangestel het, waarna hy in 2017 in die plek van Pravin Gordhan as minister van finansies aangestel is.

Onder pres. Cyril Ramaphosa is hy aangestel as minister van binnelandse sake tot sy bedanking in 2018 nadat ’n hof bevind het dat hy onder eed gelieg het en nadat ’n video waarin hy homself seksueel bevredig op die lappe gekom het.

• Die kommissie sal ook Vrydag verdere getuienis van Lynne Brown, oudminister van openbare ondernemings, asook David Mahlobo, oudminister van staatsveiligheid, aanhoor.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.