Norma Mngoma, vervreemde vrou van Malusi Gigaba, gaan Vrydag voor die Zondo-kommissie getuig oor wat sy weet van haar man se beweerde betrokkenheid by die Guptas en by staatskaping.
Die kommissie, onder leiding van oudregter Raymond Zondo, het Donderdag ’n kennisgewing uitgestuur dat Mngoma Vrydag sal getuig.

Norma Mngoma in die hof op 21 Februarie vanjaar, nadat haar man, Malusi Gigaba, haar in hegtenis laat neem het. Foto: Gallo Images
Daar sal ook ’n aansoek deur Gigaba aangehoor word om haar te kan kruisondervra.
Daar word berig Gigaba het probeer om ’n beëdigde verklaring wat Mngoma by die kommissie ingedien het, uit die openbare oog te hou.
Die bitter skeiding tussen die eertydse glansegpaar het die laaste maande in die openbaar uitgespeel toe Mngoma deur die Valke in hegtenis geneem is op klagte van opsetlike saakbeskadiging en crimen injuria wat deur onder meer Gigaba teen haar gelê is. Dit was ná ’n voorval waarin sy daarvan beskuldig is dat sy Gigaba se peperduur Mercedes-Benz G-Wagon met talle krapmerke beskadig het.
Daar is op haar elektroniese toestelle beslag gelê.
Die klagte teen Mnogma is op 26 Maart in die streekhof in Pretoria teruggetrek, waarna Mngoma aangevoer het Gigaba het die saak teen haar gefabriseer om haar te intimideer en stil te maak. Sy voer verder aan Gigaba wou bloot toegang tot haar elektroniese toestelle hê om inligting oor staatskaping te verwyder “sodat hy kon wegkom met wat hy doen.”
Mngoma het gesê Gigaba moet voor die Zondo-kommissie antwoorde gee.
Die kommissie sal ook Vrydag verdere getuienis van Lynne Brown, oudminister van openbare ondernemings, asook David Mahlobo, oudminister van staatsveiligheid, aanhoor.
Hou Netwerk24 dop vir meer inligting.

Die Gigaba-egpaar in gelukkiger dae. Foto: Jaco Marais