Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
G’n ‘9 verspilde jare’ in Wes-Kaap, sê DA se Winde
Alan Winde, Wes-Kaapse premierskandidaat van die DA, Saterdag by die bekendstelling van die DA se manifes vir die Wes-Kaap in die Bellville-fietsrybaan, Kaapstad.Foto: Malherbe Nienaber

Die Wes-Kaap het nie “nege verspilde jare” gehad soos die res van Suid-Afrika nie en die DA het die provinsie vorentoe geneem, sê Alan Winde, die DA se premierskandidaat.

“Die nuwe dagbreek het nie verlede jaar in die Wes-Kaap begin nie, maar tien jaar gelede in 2009. Ons nuwe dagbreek het begin toe die mense van die provinsie van ’n korrupte ANC-regering ontslae geraak en dit deur ’n skoon DA-regering vervang het.”

Volgens Winde, LUR vir gemeenskapsveiligheid, het die DA oor die afgelope nege jaar die provinsie vorentoe geneem, “terwyl die ANC die land in trurat gehad het”.

Hy het DA-ondersteuners Saterdag toegespreek in die Bellville-fietsrybaan in Kaapstad, waar die party se manifes vir die Wes-Kaap in die aanloop tot die verkiesing bekendgestel is.

Winde, voormalige LUR vir ekonomiese ontwikkeling, sê die Wes-Kaap het R100 miljard in buitelandse beleggings gelok sedert die DA in 2009 verkies is.

“In die afgelope dekade het ons meer as 500 000 werksgeleenthede geskep en dit is waarom ons die laagste werkloosheidsyfer in die land het. Sedert 2009 het ons meer as R483 miljoen bestee aan beurse, leerlingskappe en geleenthede vir internskappe vir byna 16 000 jongmense.

Ons het behuisingsgeleenthede aan meer as 700 000 mense gelewer.”

Winde sê dit is alles behaal omdat die DA ’n skoon regering het.

“Want as mense belasting betaal, moet hulle weet dat hul geld behoorlik bestee word. Die enigste ding wat ons keer om meer dienste in die Wes-Kaap te lewer, is die korrupte en gebreekte nasionale ANC-regering.”

Volgens Winde verloor die nasionale regering die stryd teen misdaad en word minder hulpbronne aan die polisie in die provinsie aangewys.

“Wanneer ons vra vir meer polisielede, sê die ANC-regering nee. Wanneer ons vir spesialiseenhede teen bendes en dwelms vra, sê die regering nee, tot net voor die verkiesing.”

Winde sê hy sal as premier veg vir meer hulpbronne vir die polisie en dat die magte oor die polisiediens na die provinsiale regering afgewentel word.

“Ons sal veg om meer munisipale polisiedienste te skep en die rol van die bestaande metropolisie en verkeersbeamptes om misdaad te bekamp uitbrei.”

Verder wil Winde veg vir ’n provinsiale treindiens as nog ’n stap na ’n “sterker, beter provinsie”.

“As ons wil aanhou wen as ’n provinsie, moet ons beheer oor ons eie lot te neem. Ons het almal genoeg gehad van die ANC- nasionale regering se treindienste in die provinsie. Daar is nie genoeg treine nie en hulle is nooit betyds nie.”

Die Wes-Kaap moet egter selfs verder as dit gaan en behoort kragverskaffing op te neem, volgens Winde.

“Want die mense van die Wes-Kaap sal nooit vry wees as ons ekonomiese vooruitgang deur beurtkrag en kragonderbrekings lamgelê word nie. Ek weet nie van jou nie, maar ek weier om ’n gyselaar van ’n korrupte en ondoeltreffende Eskom te bly.”

Onder Winde sal die provinsie kyk na die opwekking van sy eie krag, veral met die hulp van wind- en sonkrag en aardgas.

“En ons sal die korrupte Eskom-middelman uitsny en krag regstreeks van onafhanklike kragverskaffers koop. Ek sal veg om die Wes-Kaap van Eskom te red.”

Wat onderwys betref, het Winde gesê die DA is daartoe verbind om onderwysers en skoolhoofde aanspreeklik te hou, sowel as om stappe te doen teen onderwysvakbonde wat onwettig staak.

Hy sal ook teen die “rampspoedige” Nasionale Gesondheidsversekering (NGV) in die Wes-Kaap veg.

Om die verskaffing van huise te bespoedig sal daar ook ’n “koopbewysskema” vir huise ingestel word om mense te help om hul eie huise te koop of te bou.

“En ons sal veg dat ongebruikte grond van die nasionale regering vrygestel word sodat ons huise daarop kan bou.”

Meer oor:  Alan Winde
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.