Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
G’n wit volksmoord in SA – ANC

Daar is nie iets soos ’n wit volksmoord op plaasboere in Suid-Afrika nie, sê Tina Joemat-Pettersson, ANC-LP en voorsitter van die portefeuljekomitee oor polisie.

Joemat-Pettersson, ’n voormalige minister van landbou, het dit Dinsdagmiddag namens die ANC gesê gedurende ’n emosiebelaaide debat in die Nasionale Vergadering oor die onlangse vlaag van plaasaanvalle en -moorde in die land.

Bykans alle politieke partye was dit eens dat politici hul verskille opsy moet sit om plaasmoorde ten sterkste uit een mond te veroordeel.

Die debat is namens die DA aangevra deur Dianne Kohler Barnard, DA-LP, veral weens die toenemende getal plaasaanvalle gedurende die staat van inperking waar daar volgens haar 21 plaasmoorde en 147 plaasaanvalle net in die afgelope vier maande was.

“Dit omdat Bheki Cele, minister van polisie, verkies het om die patrolliestelsels te verbied wat plaaseienaars oor dekades heen ingestel het om hul families veilig te hou,” het Kohler Barnard gesê.

Dianne Kohler Barnard Foto: GCIS

Joemat-Pettersson het egter gewaarsku dat plaasaanvalle en -moorde nie verpolitiseer moet word nie.

“Ja, ons is emosioneel, maar enige moord op ’n vrou en kind is ook emosioneel. Maar laat ons nie pandemonium saai en die indruk skep dat daar ’n wit volksmoord in ons land is nie.

“Daar is nie so iets soos ’n volksmoord op plaasboere nie. Vir die ANC maak plaasboere se lewens saak. Maar so ook die lewe van Nathaniel Julies (die 16-jarige Downsindroomlyer van Eldoradopark wat verlede week deur polisiebeamptes doodgeskiet is). Ons in die ANC sal nooit stop om ons plase te beskerm nie.”

Volgens haar moet die polisie landelike gebiede doeltreffend beveilig en sal die kwartaallikse bekendmaking van misdaadstatistieke voortaan help om plaasaanvalle en -moorde “op ’n baie duidelike en beslissende manier te pak”.

Sy het bygevoeg dat adj.pres. David Mabuza en die interministeriële komitee oor grondhervorming en landbou ook binnekort met die landbougemeenskap sal vergader oor projekte om plaasmoorde te voorkom.

Kohler Barnard het ook verwys na die plaasmoorde Sondag op die Rafferty-egpaar in KwaZulu-Natal en die Brand-familie vroeër in die Vaalharts-skema.

“Dit terwyl duisende motorfietsryers landwyd gery het uit protes teen plaasmoorde.”

Volgens haar is dit die “isolasie in landelike gebiede wat misdadigers dae en nagte gee om ’n familie dood te martel”.

“Dink julle daar is enigiets wat ’n ouer nie sal opoffer as sy tweejarige voor hom verkrag word nie?

“Ek het gehoor van Middeleeuse marteling wat kokende olie, kookwater, ’n kragboor, rooiwarm strykysters en vuur behels. En deesdae steel oortreders dikwels niks nie. Nie eens ’n selfoon nie. Ons moet navorsing doen om ons te vertel waarom nie,” het sy gesê.

Maar laat ons nie pandemonium saai en die indruk skep dat daar ’n wit volksmoord in ons land is nie.

Intussen het dr. Pieter Groenewald, VF Plus-leier, gesê dat die polisie se jongste landelike veiligheidsplan in werking gestel moet word. “Daar is groot bereidwilligheid onder die boere van Suid-Afrika om saam met die polisie te werk in die uitvoering van hierdie plan.”

Constance Mkhonto, EFF-LP, het gesê die debat oor plaasmoorde is net deel van die “mite deur regses en diegene wat daarop uit is om aan hul koloniale en onregmatig verkrygde rykdom vas te klou”, terwyl dit die aandag weglei van die groter misdaadprobleem in Suid-Afrika waarvan swart mense die grootste slagoffers is.

Mcebisi Skwatsha, adjunkminister van landbou, grondhervorming en landelike ontwikkeling, het gesê alle lewens maak vir die ANC-regering saak en dat Suid-Afrikaners die polisie se landelike veiligheidsplan moet ondersteun.

Hy het ook gewaarsku dat Suid-Afrikaners hulle nie op grond van ras teen plaasmoorde moet laat mobiliseer nie omdat dit die samelewing verder sal polariseer.

Meer oor:  Anc  |  Bheki Cele  |  Tina Joemat-Pettersson  |  Volksmoord
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.