Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
Goldstone-kommissie ‘stel voorbeeld vir Zondo’

Die Goldstone-kommissie, wat tussen 1991 en 1994 politieke geweld en intimidasie in Suid-Afrika ondersoek het, het moontlik die weg aangedui vir die Zondo-kommissie van ondersoek na staatskaping, wie se regulasies moontlik nou gewysig sal word om staatskapers agter slot en grendel te kry.

Regter Richard Goldstone

Ronald Lamola, minister van justisie en korrektiewe dienste, het vroeër in antwoord op ’n parlementêre vraag van dr. Leon Schreiber, DA-LP, gesê die wysigings wat oorweeg word, kan die nasionale vervolgingsgesag (NVG) met vervolgings help.

Dit beteken getuienis voor die kommissie kan moontlik binnekort in strafregtelike vervolging gebruik word.

Dié wysigings word oorweeg in plaas daarvan om te wag totdat die kommissie sy werksaamhede afgehandel het en die getuienis dán eers aan die NVG voorgelê kan word.

Lamola het gesê daar was ’n paar haakplekke, maar die NVG probeer dit oplos.

“Daar word ook oorweeg om die regulasies van die Zondo-kommissie te wysig om die deel van die inligting tussen die kommissie en die NVG se ondersoekende direktoraat moontlik te maak.”

Volgens Lamola sal die NVG voorlopige verslae van die kommissie verwelkom sodat die direktoraat die relevansie van die getuienis tot sy ondersoeke kan assesseer.

Die minister het bygevoeg dat verskeie ondersoeke wel aan die gang is en dat daar reeds gevalle is wat die NVG vir vervolging oorweeg.

Eugene de Kock en Goldstone-kommissie

Adv. JJ du Toit, destyds ’n getuienisleier van die Goldstone-kommissie, sê nadat getuie-verklarings oor die wandade van Eugene de Kock, die voormalige Vlakplaas-bevelvoerder, aan die kommissie gelewer is, het hy (Du Toit) as ondersoeker en getuienisleier by regter Richard Goldstone, kommissievoorsitter, aanbeveel dat dit sonder openbare getuienis voor die kommissie regstreeks na die prokureur-generaal van Transvaal gestuur moet word.

“Dit was omdat die getuienis duidelik ’n prima facie-saak daargestel het en getuies in getuiebeskermingsprogramme was,” sê Du Toit.

“Dit was in belang van geregtigheid dat die saak so gou moontlik voor ’n hof moes dien.

“Regter Goldstone het ingestem en ons getuienis is aan dr. Jan de Oliveira, eertydse prokureur generaal van Transvaal, voorgelê.

“De Kock is hierna aangekla, skuldig bevind en het lewenslange gevangenisstraf gekry.”

Hy is ’n paar jaar gelede op parool vrygelaat.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.