Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
Good wil baklei vir bejaardes en die jeug – De Lille

’n Land wat omsien na sy bejaardes en sy jeug die beste moontlike opleiding gee. Dít is waarvoor die nuwe Good-party in volgende jaar se verkiesings sal baklei.

Patricia de Lille, die brein agter Good, wat beplan om in al nege provinsies te staan, sê die party wil werk maak van alle kwessies waaroor die groot partye reeds dekades praat, maar waarvan kiesers nog nooit die resultate gesien het nie.

Patricia de Lille Foto: Jabu Kumalo

De Lille het gesê mense moenie die stigting van Good sien as ’n poging om nuwe lewe in haar eertydse party, die Onafhanklike Demokrate (OD), te blaas nie.

“Die waardes van Good is geskoei op alles wat goed in ons Grondwet is. Dis selfs ’n verbetering op die waardes van die OD en beoog om die waardes in die Grondwet gestand te doen,” het sy gesê.

Volgens De Lille is Good as ’n nuwe party by die Onafhanklike Verkiesingskommissie (OVK) geregistreer en is dit heeltemal anders as die OD, wat ook steeds geregistreer is.

Good het sedert verlede week by sy nuwe kantore in Goodwood ingetrek en is nou druk besig om hom vir die verkiesing voor te berei.

De Lille sê ruimtelike ongeregtigheid en segregasie is van die kernkwessies wat Good eerste wil pak.

“Ras en gebied het reeds eeue lank ’n groot impak op ons lewens gehad. Geen demokratiese regering het apartheid se ruimtelike nalatenskap aangepak nie. Dit heers steeds in ons land en moet verander,” het sy gesê.

“Ons het nie ’n towerstaffie wat ons gaan swaai wat bestaande rassehaat, klasse-onderskeid en ongelykhede in ’n oogwink sal uitwis nie, maar ons is ’n toegewyde groep mense wat wil seker maak dat verbeterings op elke hoek, straat en dorpie teweeggebring sal word,” sê De Lille.

Sy het verder gesê dat hulle alles in die stryd gaan werp om op te staan vir die “goeie Suid-Afrikaners”, ongeag hul ras of ekonomiese lot, wat hulle beywer om die land uit die kloue van misdadige en magshonger politici te red.

Die party se beleid gaan op vier kerntemas rus: ruimtelike, maatskaplike, ekonomiese en omgewingsgeregtigheid.

Good is ook reeds in die proses om ’n gedetailleerde beleidsdokument op te stel en sal na verwagting sy verkiesingsmanifes volgende maand bekend maak.

De Lille het gesê sy premierskandidate sal ook dan bekend gestel word.

Intussen het politieke ontleders gemengde gevoelens oor De Lille se party.

Prof. Amanda Gouws van die Universiteit Stellenbosch het gesê die party mag ’n impak op die Wes-Kaap hê, veral as bruin kiesers besluit om vir haar te stem. “Verder sal dit nie veel impak hê nie. Daai mandaat is so wyd soos die Heer se genade.”

Dr. Shingai Mutizwa-Mangiza, ’n politieke ontleder aan die Universiteit van Wes-Kaapland, meen dit gaan wel ’n impak op die politieke landskap hê, maar waarskynlik eerder op provinsiale as nasionale vlak.

“Haar ondersteuningsbasis is hoofsaaklik in die Wes-Kaap en dit is dus heeltemal moontlik dat daar ’n afwatering van DA-steun in die provinsie kan wees,” het Mutizwa-Mangiza gesê.

Hy sê in die geval van die EFF en die ANC sal die impak van De Lille se nuwe party grootliks afhang van hoe sy haar party in verhouding tot ander partye posisioneer en hoe haar partyboodskappe aanvaar word.

“Sy sal ook strategiese besluite moet neem oor waar om haar pogings en hulpbronne te fokus,” het hy gesê.

Meer oor:  Patricia De Lille  |  Verkiesings  |  Baklei  |  Jeug  |  Politieke Party  |  Bejaardes
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.