Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
Gordhan ‘gereed vir stryd wat voorlê’
Pravin Gordhan, minister van finansies. Foto: Cornel van Heerden

Pravin Gordhan, minister van finansies, is bewus van die planne om hom in hegtenis te neem en is gereed vir die genadelose stryd om staatshulpbronne wat voorlê.

Vyf bronne in die tesourie, Reserwebank en Gordhan se informele “kombuiskabinet” het gesê Gordhan gaan hom nie laat intimideer nie en dat die aanslag van die staatsuitbuiters te wagte was.

“Die misdaadnetwerk wat toegelaat is om binne die staat te floreer se toekoms word bedreig. Hulle slaan nou terug,” het een van dié bronne gesê.

’n Ander bron het gesê sommige prominente rolspelers in die private sektor (wat hulself midde-in die stryd bevind) is gewaarsku om hul persoonlike veiligheid te verbeter.

Dit volg op onthullings in die Sunday Times dat dié Woensdag ingelig is oor planne om Gordhan, asook ’n aantal van sy voormalige kollegas by die Suid-Afrikaanse Inkomstediens (SAID) én adv. Gerrie Nel, die welbekende staatsaanklaer, op klagte van “spioenasie” in hegtenis te neem.

Netwerk24 se inligting is dat Trevor Manuel, voormalige minister van finansies, ook geteiken word.

’n Goedgeplaaste bron, wie se inligting deur twee ander onafhanklike bronne in Gordhan se kombuis en die Reserwebank bevestig is, sê Nathi Nhleko, minister van polisie, het gesê dat Gordhan, Manuel en ander in hegtenis geneem gaan word.

Slegs Naledi Pandor, minister van wetenskap en tegnologie, en Blade Nzimande, minister van hoër onderwys, het Nhleko se motiewe bevraagteken.

Pandor het ontken dit is op kabinetsvlak bespreek en wou nie verder kommentaar lewer nie terwyl Nzimande onbereikbaar was. ’n Senior lid van die uitvoerende gesag het ook ontken dit is op kabinetsvlak bespreek.

Manuel het gesê die Valke en die nasionale vervolgingsgesag (NVG) het nog nie met hom gepraat nie. “Ek het geen kommentaar nie, behalwe dat die konstitusionele hof op 31 Maart vanjaar bevestig het ons leef in ’n grondwetlike demokrasie. Om dié rede moet selfs húlle [die Valke] die regte prosedure volg eenvoudig omdat burgers regte het.”

Die presidensie het gister twee verklarings uitgereik waarin dit ontken word.

Die skuld vir die gerugte word op “inligtingsmouse” gepak wat tweespalt wil saai.

Die Sunday Times het berig die nuutste dreigement om Gordhan en sy voormalige kollegas in hegtenis te neem spruit uit die Valke se ondersoek na beweerde ongerymdhede rondom die SAID se koverte ondersoekeenheid.

Dié eenheid is onder Gordhan as kommissaris van die SAID en Manuel as minister van finansies gevestig.

Die NVG wou nie bevestig of ’n besluit oor vervolging al geneem is nie, terwyl die Valke ook nie wou kommentaar lewer nie.

Berning Ntlemeza, die Valke se bevelvoerder, is glo saam met David Mahlobo, minister van staatsveiligheid, in beheer van die ondersoek.

Dié vervolgings moet glo opgevolg word deur ’n skommeling waarin Brian Molefe as minister van finansies aangestel word en Sifiso Buthelezi as sy adjunk, het ’n bron na aan Gordhan en met kennis van tesourie-kwessies gesê.

Molefe is die uitvoerende hoof van die sukkelende Eskom en Buthelezi is ’n nuwe ANC-LP.

’n Ingeligte het aan Netwerk24 gesê die NVG het Helgaard Lombard en Johan de Waal, voormalige lede van die SAID-ondersoekeenheid, ’n pleitooreenkoms aangebied om teen Gordhan en andere te getuig. Hulle het dit nie aanvaar nie.

“Die inhegtenisnemings moes met ’n skommeling gepaard gaan waarin Molefe en Buthelezi aangestel word. Dit was veronderstel om ná die verkiesing te gebeur, maar kan nou enige oomblik aangekondig word.”

Gordhan beskou die dreigemente glo as geloofwaardig. “Ons het verwag dit sou gebeur en dat die staatsuitbuiters sou terugslaan. Die domino’s is nou besig om om te val.”

Volgens die bron – met eerstehandse en direkte kennis van gebeure in die tesourie – reken Gordhan daar is ’n positiewe aan die nuutste verwikkelings: “Dit wys presies tot hoe ’n mate die staat aan invloed van buite blootgestel is. Die vertrek van die (Gupta-) familie na die Midde-Ooste beteken nie die einde van hul inmengery of invloed nie.”

Nege onafhanklike bronne (insluitend bronne in die SAID, Denel, Valke en die finansiële intelligensiesentrum) sê Gordhan is nou die staatsuitbuiters se vyand nommer een omdat hy die netwerk van patronaatskap wat onder pres. Jacob Zuma gevestig is, ontrafel. ’n Gordhan-opdrag wat bepaal dat alle groot staatskontrakte oor sy lessenaar gaan bedreig glo ook talle gevestigde belange.

“Gordhan laat hom egter nie afsit nie. Hy floreer in ’n krisis en sal beslis nie terugstaan nie. Dié versterk net sy eie vasbeslotenheid,” het ’n tesourie-bron gesê.

Projek Sunday Evenings

Pravin Gordhan, Trevor Manuel (voormalige minister van finansies), en adv. Gerrie Nel (NVG-aanklaer) word ondersoek vir hul betrokkenheid by Projek Sunday Evenings.

Nathi Nhleko wil ook Ivan Pillay (voormalige SAID-adjunkhoof), Johann van Loggerenberg (voormalige SAID-ondersoekhoof), Andrew Leask (NVG-ondersoeker en Nel se regterhand), Charl Fourie (voormalige SAID-ondersoeker wat jare lank reeds in die buiteland werk) en die geskorste SAID-ondersoekers, De Waal en Lombard, vervolg.

Die Valke het in Februarie 27 vrae aan Gordhan gestuur oor Project Sunday Evenings, ’n projek waartydens die SAID na bewering op die NVG gespioeneer het.

Bronne betrokke by die projek skimp dat dit ’n geregistreerde intelligensieprojek was en daarom wettig is.

Nhleko, die Valke en die huidige SAID-bestuur is oortuig dat dit strafregtelike misdade was.

Die waarheid sal in ’n hof bewys moet word.

Verskeie bronne het gesê dié vervolgings word in die afgelope maand reeds bespreek en “word verwag”.

Die eerste tekens was toe die NVG De Waal en Lombard, geskorste SAID-ondersoekers, gevra het om staatsgetuies teen Gordhan, Manuel, Pillay, Van Loggerenberg en Nel te word.

Pillay sê in ’n verklaring daar is geen gronde vir vervolging nie en dat hy gereed is om homself in die hof te verdedig.

“Dit is duidelik diegene wat die vervolging jaag, het net een doel voor oë: om diegene in hul pad te verwyder en te straf. Die politieke en ekonomiese gevolge van hul optrede op ons land traak hulle nie in die minste nie.”

Meer oor:  Valke  |  Naledi Pandor
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.