Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
Gordhan ‘sal moeilik oorleef’

Min. Pravin Gordhan sal moeilik die “breedgebaseerde klagtes” teen hom oorleef.

Pravin Gordhan

Só sê emeritus-professor Pieter Labuschagne, ’n polititieke en regskenner van Unisa, nadat Gordhan Vrydag in ’n verslag van adv. Busisiwe Mkhwebane, die openbare beskermer (OB), deurgeloop het oor die afsonderlike intelligensie-eenheid wat in die Suid-Afrikaanse Inkomstediens (SAID) begin is toe hy kommissaris van die SAID was.

Die OB sê die eenheid was onwettig en ’n oortreding van die Grondwet.

Labuschagne sê Mkhwebane se bevindinge oor die onwettige eenheid binne die SAID en die feit dat Gordhan vir die parlement gelieg het, is ernstig.

Die OB het bevind Gordhan het die etiese kode van die uitvoerende gesag oortree deur die parlement om die bos te lei oor ’n ontmoeting met Ajay Gupta.

Labuschagne sê Gordhan het nie ’n ander keuse nie as om die OB se bevindinge deur die hof te laat hersien.

Gordhan het Vrydagmiddag laat in ’n verklaring gesê hy sal Mkhwebane se verslag so gou moontlik op hersiening neem.

Die minister het sy prokureurs Vrydagmiddag opdrag gegee om dit so spoedig moontlik te doen. Meer besonderhede sal volgende week bekend gemaak word.

Die EFF, wat die klagte by die OB ingedien het, het die OB se verslag verwelkom en ’n beroep op pres. Cyril Ramaphosa gedoen om Gordhan, sy minister van openbare ondernemings, en ’n vertroueling van hom, af te dank.

Die EFF het geen ooghare vir Gordhan nie en het hom al daarvan beskuldig dat hy sy amp misbruik ten koste van belastingbelaters en die Grondwet verontagsaam.

Mkhwebane het Ramaphosa boonop aangeraai om tugstappe teen Gordhan te doen. Sy het ook aanbeveel dat ’n strafregtelike ondersoek teen Gordhan, Ivan Pillay en ander amptenare gedoen word wat by die intelligensie-eenheid betrokke was.

Adv. Busisiwe Mkhwebane, Madonsela se opvolger as openbare beskermer. Foto: Andrew Mkhondo

Die OB het ook bevind Oupa Magashula, ’n voormalige kommissaris van die SAID, het onder eed voor haar gelieg oor die bestaan van die eenheid.

Gordhan sê Mkhwebane se jongste verslag wys sy het nie die feite nie, vertolk die wet verkeerd en is duidelik bevooroordeeld.

Gordhan sê die Grondwet vereis dat die OB onafhanklik, onpartydig, waardig en doeltreffend moet wees. “Tot dusver het sy hierin misluk.”

Die minister sê hy en sy regspan het nog geen korrespondensie van die OB oor haar bevindinge ontvang nie. Pillay se prokureurs sê hulle het ook nog geen korrespondensie ontvang nie.

Roland Henwood, ’n politieke ontleder verbonde aan die Universiteit van Pretoria, sê die “druk en konflik” is besig om toe te neem.

Gordhan het baie vyande binne en buite die ANC en dié mense sien hom as die swak skakel om Ramaphosa seer te maak.

“Die aanvalle op Gordhan plaas Ramaphosa onder druk.”

Henwood meen die aanvalle op Gordhan sal eers ophou as die hof in die hersieningsaak in sy guns beslis.

Theo Venter, ’n politieke ontleder van die Noordwes-Universiteit se sakeskool, sê sy indruk is Mkhwebane hoop om ’n konstitusionele krisis te veroorsaak.

“Sy gebruik allerlei vertolkings van haar magte wat gebou is op die presedent wat geskep is rondom die Nkandla-sage.

“Ek dink nie sy is reg nie.

“Sy sê as iemand haar wil stuit moet hulle ’n interdik teen haar bekom. Dit is nie meer genoeg om die saak op hersiening te neem nie.

“Die volgende paar dae kan baie interessant wees. Ek kry die indruk die ANC-koukus in die parlement wil haar termyn, ‘van nader bekyk’.

“Thuli Madonsela (Mkhwebane se voorganger) was ook in dieselfde bootjie voor haar Nkandla-uitspraak,” meen Venter.

Lawson Naidoo van die Raad vir die Bevordering van die Suid-Afrikaanse Grondwet (Casac) het gesê hy is verbyster oor Mkhwebane se uitspraak.

Naidoo sê die president moet wel gehoor gee aan die OB se aanbevelings teen Gordhan, berig Andrea Küsel.

“Die konstitusionele hof het bevind dat die OB se remediërende aksie bindend is.”

Naidoo sê egter die president het al in vorige gevalle gewag dat die hof ’n uitspraak lewer oor die hersieningsproses voordat tugstappe geneem is.

Mkhwebane se ondersoek is die 10de een rakende die sogenaamde “geheime eenheid”.Ondanks al hierdie ondersoeke is Gordhan nog nooit strafregtelik vervolg nie.

Die presidensie het nog nie gereageer op ’n versoek om kommentaar van Ramaphosa nie.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.