Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
Gordhan se regslui kap OB

Pravin Gordhan se regsverteenwoordigers sê adv. Busisiwe Mkhwebane, die openbare beskermer (OB), maak dit moeilik om hul kliënt te adviseer, omdat haar kantoor sedert die 16de nie op hul skrywe reageer nie.

Luidens ’n verklaring wat Dinsdag uitgereik is, het hulle op sowel 16 as 22 April aan die OB geskryf en moes hulle deur ’n mediaverklaring uit die OB se kantoor hoor dat Gordhan tot 3 Mei uitstel gegee is om ’n verklaring en stawende dokumente aan die OB voor te lê.

Mkhwebane ondersoek bewerings van ’n sogenaamde “rogue unit” in die Suid-Afrikaanse Inkomstediens (SAID). Die ondersoek sluit in bewerings dat Gordhan as SAID-kommissaris onbehoorlik opgetree het, die etiese gedragskode vir lede van die uitvoerende gesag geskend het en by onreëlmatighede of onwettige aktiwiteite betrokke was ten opsigte van dié omstrede ondersoekeenheid van die SAID.

Luidens die verklaring bly Gordhan fundamenteel daartoe verbind om die Grondwet en die wet te gehoorsaam, maar neem hulle aanstoot met Mkwebane se beskrywing van hom as ’n “geïmpliseerde party”.

Pravin Gordhan, minister van openbare ondernemings. Foto: Deaan Vivier

Hulle wil ook hê Mkwebane moet feitelik staaf hoe sy tot die slotsom kom dat Gordhan by enige samespanning betrokke is, soos in haar verklaring vervat.

Gordhan se regspan sê hulle wag onder meer vir terugvoering oor watter uitsonderlike redes bestaan om Gordhan nou te dagvaar. Ingevolge artikel 6(9) van die Wet op die Openbare Beskermer mag die OB se kantoor nie sonder sulke uitsonderlike redes ’n saak ondersoek wat meer as twee jaar gelede na haar kantoor verwys is nie.

Hulle wil verder weet waarom sy besluit het om Gordhan wéér te dagvaar, wanneer haar voorganger, die Valke en die Nugent-kommissie van ondersoek reeds bevind het dat hy niks verkeerd gedoen het nie.

Hulle betwis ook Mkwebane se stelling dat Gordhan uitstel gevra het omdat die SAID eers regsadvies wil inwin oor of dit wettig sal wees vir die instelling om inligting oor partye soos Gordhan vir die ondersoek beskikbaar te stel.

Die OB het Dinsdag egter gesê haar kantoor het die grondwetlike magte om die SAID regstreeks vir die betrokke inligting te dagvaar.

Sy het dit in haar verklaring ook duidelik gemaak dat sy as laaste uitweg nie sal skroom om die OB-wet te gebruik en minagtingsverrigtinge in ’n hof teen die SAID te begin as sy nie die betrokke dokumente kry nie.

Meer oor:  Pravin Gordhan  |  Ob  |  Openbare Beskermer
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.