Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
Gordhan voor ANC-koukus oor SAL, Eskom

Pravin Gordhan, minister van openbare ondernemings, sal Donderdagoggend in die parlement aan die ANC se koukus terugvoering gee oor die probleme by Eskom en die Suid-Afrikaanse Lugdiens (SAL).

“Die minister lewer gereeld voorleggings aan die koukus en sien uit na geleenthede om inligting met sy ANC-kollegas te deel,” sê Sam Mkokeli, Gordhan se woordvoerder.

Pravin GordhanFoto: Argief

Die politieke ontleder Theo Venter van die Noordwes-Universiteit se sakeskool, sê hoewel sommige ANC-lede ontevrede is oor die wyse waarop Gordhan dié krisisse hanteer, sal die minister die voorlegging doen met die wete dat hy die politieke ondersteuning van pres. Cyril Ramaphosa en Tito Mboweni, minister van finansies, het.

Daar is die laaste tyd groot druk op Gordhan oor die wyse waarop hy die krisisse by Eskom en die SAL hanteer. Ook uit ANC-geledere.

Gordhan is ook in die vakbonde se visier oor die voortslepende staking by die SAL. Die metaalwerkersvakbond, Numsa, en die Suid-Afrikaanse Kajuitpersoneelvereniging (Sacca) staak reeds sedert Vrydag by die lugdiens oor salarisse.

“Daar is in sekere kringe in die ANC ongelukkigheid en ’n terugdrukpoging oor die streng optrede van die regering, maar Ramaphosa weet hy het in Gordhan en Mboweni twee voorhamers wat onbeweeglik is,” sê Venter.

“Die land se ekonomie is in so ’n benarde posisie dat die regering geen ander keuse het as om streng maatreëls in te stel nie.”

Hy glo nie die ontevredenes sal enigsins hond haaraf maak nie omdat Ramaphosa in die ANC-koukus en die party se nasionale uitvoerende komitee (NUK) sterk staan.

’n Bron na aan die regering sê daar is ANC-lede wat meen Gordhan se politieke loopbaan staan einde se kant toe. Die kritiek teen hom is dat hy “nie sterk genoeg” was om die SAL en Eskom reg te ruk sedert hy minister van openbare ondernemings geword het nie.

Die gevoel is dat hy al 70 jaar oud is en al lankal wou aftree.

“Hy het nie meer die vuur in sy maag nie. Sy optrede met die (krisisse by die) SAL en Eskom is maande en jare te laat.

“Hy tree nie uit enige oortuiging op nie, maar doen wat hy doen omdat daar geen ander moontlikhede is nie,” sê die bron.

Hoewel Gordhan steeds Ramaphosa se steun het, is hy ’n teiken vir veral die ANC se linkse vleuel.

Sy steun van die meer gematigde vleuel is glo ook besig om te taan.

* Die kabinet het Woensdag vergader en Eskom en die SAL sou waarskynlik belangrike besprekingspunte op die sakelys wees. Jackson Mthembu, minister in die presidensie, sal Donderdagoggend op ’n mediakonferensie in Pretoria terugvoering gee oor wat op die kabinetsvergadering bespreek is.

Die ACDP sê hy verwelkom Gordhan se ingryping by die SAL en Eskom.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.