Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
Gordhan: Vrae oor OB se tydsberekening

Pravin Gordhan, voormalige minister van openbare ondernemings, gaan aansoek doen dat adv. Busi­siwe Mkhwebane, openbare beskermer (OB), se bevindings teen hom hersien word.

Die OB het Gordhan Vrydag skuldig bevind aan onbehoorlike gedrag. Dit hou verband met die OB se ondersoek na Ivan Pillay, voormalige kommissaris van die Suid-Afrikaanse Inkomstediens (SAID).

Mkhwebane het bevind Gor­dhan het in sy termyn as minister van finansies onregmatig opgetree deur Pillay se aftrede met volle voordele goed te keur.

Die OB versoek pres. Cyril Ramaphosa om tugstappe teen Gordhan te doen omdat hy ongrondwetlik opgetree het. “Dit hang van die president af watter besluit hy gaan neem,” sê Mkhwebane.

Gordhan se kantoor het Vrydagaand in ’n verklaring gesê sy regspan het hom geadviseer dat die OB se bevindings “totaal verkeerd” is. Luidens die verklaring lyk dit nie asof Mkhwebane ’n voorlegging wat Gordhan op 22 Mei by haar ingedien het enigsins in ag geneem het in haar ondersoek nie.

Pravin Gordhan, voormalige minister van openbare ondernemings. Foto: Deaan Vivier

Gordhan meen dat die OB – soos in haar ondersoek na die Estina-suiwelprojek – weer eens ’n fout begaan het.

Die hooggeregshof in Pretoria het vroeër vandeesweek die OB se ondersoek na die Estina-suiwelprojek by Vrede ongrondwetlik en onwettig verklaar.

Gordhan bevraagteken ook die OB se “haas en tydsberekening” met die uitreiking van haar verslag.

“Die klagte verg ingewikkelde oorwegings van pensioenfondswetgewing ten opsigte van staatsdiensamptenare. Dit is te betwyfel of daar ten volle oorweging gegee is aan die minister se voor-legging in dié verband,” lui die verklaring, wat deur Adrian Lackay, Gordhan se woordvoerder, uitgereik is.

Die OB verontagsaam ook luidens die verklaring deur haar tydsberekening “een van die belangrikste grondwetlike gebeure in ons land, naamlik die inhuldiging van die president”.

Ook prof. André Duvenhage, politieke ontleder aan die Noordwes-Universiteit, meen Mkhwebane se tydsberekening met die verslag is verdag, veral omdat Ramaphosa ter voorbereiding van sy nuwe kabinet juis ontslae raak van vrot appels. Ramaphosa sal sy nuwe kabinet ná afloop van sy inhuldiging Saterdag aanwys.

Adv. Busi­siwe Mkhwebane

Dit is ’n ope geheim dat Mkhwebane deel is van die faksie binne die ANC wat oudpres. Jacob Zuma steun.

Duvenhage sê Gordhan is om baie redes veral onder dié groep ongewild, maar ook by ander groeperings in die party weens sy onsimpatieke benadering teenoor diegene wat verkeerd optree.

“ ’n Mens kan nie uitsluit dat Gordhan dalk ’n fout gemaak het met die Pillay-aangeleentheid nie, maar dit is nie op dieselfde vlak van korrupsie as die honderde miljoene rande wat die OB in haar Vrede-ondersoek misgekyk het nie. Sy is daaroor in die moeilikheid en speel duidelik nou politiek met die Gordhan-verslag. Sy probeer vir oulaas nog ’n bydrae lewer tot die Zuma-faksie.”

Duvenhage twyfel of Ramaphosa Gordhan weens die OB-verslag uit sy nuwe kabinet sal laat.

Die EFF het Vrydag in reaksie op die OB se verslag gesê daar is “geen verskil tussen Pravin Gor­dhan en Malusi Gigaba, Nomvula Mokonyane en Bathabile Dlamini nie” en Gordhan hoort daarom nie in Ramaphosa se kabinet nie.

Die EFF sê in ’n verklaring Gordhan se optrede is “suiwer verontagsaming van die Grondwet, misbruik van mag en wanadministrasie”.

Die party meen met dié bevinding van die OB sluit Gordhan nou aan by ander oortreders teen wie art. 9-instellings en howe bevindings gemaak het.

Die EFF wil hê Gordhan moet as parlementslid bedank, selfs al besluit hy om die OB se bevinding in ’n hof te beveg. “Hy moet, soos David Mabuza, die eerbare ding doen en opsy staan,” sê die party.

Mabuza, voormalige adjunkpresident, het vroeër vandeesweek versoek dat sy inhuldiging as parlementslid uitgestel word sodat hy eers sy naam in ere kan herstel. Dit volg nadat hy in ’n verslag van die ANC se integriteitskomitee geïmpliseer is.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.