Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
Gradering: Mangaung nou laer as rommel
Die Bram Fischer-gebou in Bloemfontein op die agtergrond met ’n oop kragboks en rommel in die munisipale tuine in die voorgrond. Foto: Mlungisi Louw

Die reeds bankrot Mangaung-metro in Bloemfontein het ’n verdere terugslag gekry toe hy vandeesweek tot een vlak onder rommelstatus afgradeer is.

Dit het boonop Dinsdag gebeur, net ’n dag nadat ’n administrateur en regrukspan van vier Maandag ingeval het om die metro te probeer red.

Intussen waarsku die ekonoom Dawie Roodt by navraag die afgradering van die metro asook ander staatsverwante entiteite soos die Ontwikkelingsbank en Landbank, dui daarop dat Moody’s die staat heel moontlik ook gaan afgradeer.

Roodt sê in dié stadium is die staat se beste gradering net twee vlakke bo die “laer as rommelstatus” wat die metro nou het. “Die staat se binnelandse beleggingsgradering is nog redelik, maar sy buitelandse gradering maak dit net-net.”

Roodt sê dié verlaagde status van Mangaung gaan in ’n tyd van dalende rentekoerse nie veel verskil maak nie omdat hy reeds sedert Augustus verlede jaar rommelstatus beklee het.

“Die metro gaan net baie hoë rentekoerse betaal as hy geld wil leen.”

Thembeni (Skully) Nxangisa, Vrystaatse LUR vir samewerkende regering en tradisionele sake, het gesê die afgradering is teleurstellend en hulle gaan hard werk om die omstandighede te verbeter.

Hans Britz, oudfinanshoof van die metro en ’n DA-raadslid, sê die verdere afgradering is net nog ’n stap op die pad ondertoe.

Moody’s se redes vir die afgradering is dat die metro nie sy geld invorder en sy uitgawes beheer nie. Hy meen die metro kan nog afgegradeer word tot op die heel laagste gradering.

Moody’s het ook aangedui dat hy die metro nog verder kan afgradeer as daar nie vinnig ’n ommeswaai kom nie.

Britz sê ’n groot probleem is die provinsiale regering se skuld van R1,4 miljard aan die metro.

Reddingsboeie nie gesoek

“Ons soek nie reddingsboeie soos wat aan die Suid-Afrikaanse Lugdiens (SAL) betaal is nie.

“Ons wil hê die staat – die provinsiale regering – moet sy verpligtinge aan die metro nakom en die R1,4 miljard betaal wat hom toekom.”

Hy sê die staat se skuld aan die metro het oor die laaste 3 jaar met 388% gestyg.

Die VF Plus sê die verdere afgradering was te wagte nadat die metro onder administrasie geplaas is.

Die party sê as die ANC-bestuur by sy eerste regrukplan van 216 bladsye gehou het, sou dié afgradering vermy kon gewees het.

Geen salarisse

* Raadslede en munisipale werkers was Woensdag ontsteld toe hul salarisse nie die oggend in hul rekenings betaal was nie.

Veral Baba Sebolao en Paulnita Marais van die EFF en Adriaan de Bruyn van die VF Plus was ontevrede oor dié situasie.

Qondile Khedama, hoofbestuurder: kommunikasie van die metro, het beloof die salarisse sou Woensdag nog betaal word.

Nxangisa het ook bevestig die salarisse sal betaal kan word nadat die provinsiale regering van sy skuld aan die metro gedelg het. Hy wou nie sê hoeveel die provinsie aan die metro oorbetaal het nie.

Khedama het ook vrese besweer dat derde partye soos mediese en pensioenfondse nie betaal sou kon word nie, en dat amptenare wat waarneem in poste ook nie salarisse sou ontvang nie.

* ’n Gerug het die ronde gedoen dat die metro ’n reddingsboei van R30 miljoen van die provinsiale regering gevra het om Woensdag salarisse te kon betaal.

Zolile Lobe, woordvoerder samewerkende regering in die Vrystaat, het ontken dat dit ’n reddingsboei is en gesê dit is geld wat die Vrystaatse provinsiale regering se departement van openbare werke aan die metro skuld.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.