Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
Groep kla oor minderheidsverslag oor grond

Pres. Cyril Ramaphosa moenie nie verslae van ’n sogenaamde “minderheid” of enige ander groep oorweeg totdat die adviespaneel oor grondhervorming sy werksaamhede afgehandel het nie.

Dié versoek van die African Farmers’ Association of South Africa (Afasa) het Woensdag opgeklink in reaksie op die minderheidsverslag oor grondhervorming wat verlede Vrydag deur Dan Kriek, president van Agri SA, en Nic Serfontein, megaboer van die Vrystaat uitgereik is. Hulle is deel van die paneel van tien.

Ramaphosa het die paneel van kundiges verlede jaar aangestel om die regering oor grondhervorming te adviseer.

Omstredenheid het egter verlede Vrydag ontstaan toe Agri SA aangekondig het dat die twee lede, asook “een ander lid van die paneel”, ’n minderheidsverslag oor grondhervorming en onteiening sonder vergoeding aan Ramaphosa gestuur het, want hulle “weier om ’n amptelike verslag in dié verband te onderteken”.

Die presidensie het ’n dag later onder die naam van dr. Vuyo Mahlati, voorsitter van die paneel en president van Afasa, ’n verklaring uitgereik en daarop gewys dat Agri SA nie ’n lid van die paneel is nie en dus nie in ’n posisie is om ’n minderheidsverslag in te dien nie.

Mahlati het gesê dit is kommerwekkend vir die paneel en die presidensie dat Agri SA toegang tot vertroulike dokumente van die paneel gekry het. Die kwessie sal volgens haar regstreeks opgeneem word met die betrokkenes en partye wat geraak word.

Neo Masithela, voorsitter van Afasa, het Woensdag in ’n verklaring gesê hy neem “met diepe kommer” kennis van die moontlikheid dat vertroulike dokumente van die paneel uitgelek is.

Die organisasie beskryf Agri SA se optrede as “verdag” en sê sprake van ’n minderheidsverslag is daarop gemik om die samelewing emosioneel op te sweep.

“Afasa veroordeel Agri SA se optrede en versoek die organisasie, en enigiemand anders wat wil inmeng, om die paneel toe te laat om sy werk te voltooi,” lui Masithela se verklaring.

Agri SA het aangedui dat sy minderheidsverslag duidelik uitstippel watter voorstelle en aanbevelings in die paneel se verslag ondersteun word en watter verwerp word.

Kriek het vroeër gesê vyf “kernsegmente” van die minderheidsverslag is by die paneel ingedien, maar dit is net “oppervlakkig” hanteer.

Kriek wou Woensdag geen kommentaar lewer nie.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.