Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
Grond: 189 LP's stem dat komitee weer ingestel word

LP’s het Donderdag met ’n oorweldigende meerderheid ten gunste daarvan gestem dat die parlementêre ad hoc-komitee wat gemoeid is met die wysiging van die Grondwet om onteiening sonder vergoeding moontlik te maak, weer in die lewe geroep word.

Adj.pres. David MabuzaFoto: ELIZABETH SEJAKE

Die mosie wat deur Pemmy Majodina, ANC-hoofsweep, in die Nasionale Vergadering (NV) ter tafel gelê is, is met 189 stemme teenoor 67 stemme aanvaar.

Die komitee kon weens die algemene verkiesing in Mei, nie sy werksaamhede in die vorige parlementêre sitting voltooi nie.

Die totstandkoming van die ad hoc-komitee volg ná die goedkeuring van die verslag van die grondwetlike hersieningskomitee wat die wysiging van art. 25 van die Grondwet – die eiendomsklousule – aanbeveel het om onteiening sonder vergoeding duidelik daarin uiteen te sit.

Die veelpartykomitee sal uit 11 lede met stemreg bestaan – die ANC met ses, die DA met twee, die EFF met een en twee vir die ander partye. ’n Verdere 14 LP’s wat nie stemreg het nie – ANC (2), DA (1), EFF (1) en ander partye (10) – sal ook op die komitee dien.

Die ANC, EFF, PAC, AIC en NFP is onder die partye wat ten gunste daarvan is dat die komitee weer in die lewe geroep word, terwyl die DA, IVP, ACDP en VF-Plus daarteen gekant is.

Die sperdatum waarteen die komitee sy werk moet voltooi, is 31 Maart 2020.

Intussen het adj.pres. David Mabuza Donderdag in vraetyd in die NV verskeie vrae beantwoord.

Adj.pres. David Mabuza het gesê die regering sal nie toelaat dat die landbousektor ineenstort nie omdat boere “die lewensbloed van die ekonomie” is.

Hy het op ’n vraag deur dr. Pieter Groenewald, leier van die VF Plus, oor hoe die regering boere in die Noord-Kaap, Oos-Kaap en die Vrystaat bystaan wat geweldige verliese weens die droogte gelei het, gesê die regering sal nie toelaat dat die landbousektor ineenstort nie omdat boere “die lewensbloed van die ekonomie” is.

Geld is opsygesit vir boere wat geraak word. Die Vrystaat, Noord-Kaap en Oos-Kaap was onder die provinsies wat droogteverligting ontvang het gedurende die laaste kwartaal van die 2018-’19-boekjaar.

Gemoedere in die NV het begin hoog loop toe Mabuza ’n vraag oor wetgewing vir die regulering van die land se intelligensiestrukture beantwoord het. Die EFF het die geleentheid gebruik om weer ’n hou in te kry na Pravin Gordhan, minister van openbare ondernemings.

Mbuyiseni Ndlozi, EFF-LP, het vir Mabuza gevra of Mabuza sal saamstem dat as ’n eenheid in die Suid-Afrikaanse Inkomstediens (SAID) in die geheim intelligensie versamel het dit onwettig sou wees – dat dit ’n “rogue”-eenheid sou wees en dat dit gevolglik sal beteken dat daar onder meer teen sekere individue opgetree moet word.

Mabuza het daarop gewys dat dié kwessie tans voor die howe is en dat hy nie daarop kan reageer nie, waarop Ndlozi gesê het dat daar presedent in die NV is ten opsigte van die sub judice-reël. Geen hof kan die reg opskort vir die regering om aanspreeklik gehou te word nie, het Ndlozi gesê. Wat Mabuza eintlik sê is dat LP’s nie hul plig kan uitvoer totdat die howe die groen lig daarvoor gee nie.

“As daar ’n eenheid in die SAID was wat deur die agbare Jamnadas (Gordhan se tweede naam) gestig is, is dit nie voor die hand liggend dat jou regering teen hom en almal anders moet optree wat daaraan deelgeneem het nie?” het Ndlozi gevra.

John Steenhuisen, DA-hoofsweep, het gevra dat die kwessie na die reëlskomitee verwys word anders gaan “ander ministers ook agter die sub judice-reël” wegkruip. Thandi Modise, speaker van die NV, het ingestem en dit na die reëlskomitee verwys.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.