Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
Grond: Chaos in komitee

Die werksaamhede van die grondwetlike hersieningskomitee oor grondonteiening sonder vergoeding is besig om in chaos te ontaard.

Opposisiepartye sê dit is bykans onmoontlik om hul verslag – wat aanbevelings moet doen oor die wenslikheid van ’n grondwetwysiging – voor die einde van die jaar te voltooi. Sou die verslag tot volgende jaar sloer en ’n gebrekkige proses boonop tot hofsake lei, is daar ’n wesenlike gevaar dat die komitee nie sy werksaamhede voltooi sal hê teen die tyd dat die parlement in Mei volgende jaar vir die verkiesing ontbind nie.

Dit afgelope week was daar groot ontevredenheid binne die komitee omdat die 630 000 skriftelike voorleggings aan die parlement oor die kwessie van grondonteiening nie deeglik oorweeg is nie.

‘Waar is voorleggings per e-pos?’

Na raming is 65% van dié voorleggings teen die wysiging van die Grondwet gekant en opposisiepartye sê dié voorleggings word doelbewus geïgnoreer. Daar is ook ontevredenheid omdat die insette van ’n hoëvlakpaneel, gelei deur oudpres. Kgalema Motlanthe, wat ondersoek na die kwessie ingestel het, nooit deur die parlementêre subkomitee oorweeg is nie. Motlanthe se paneel het bevind dat ’n wysiging van die Grondwet nie nodig is vir doeltreffende grondhervorming nie.

Opposisiepartye – veral die DA en Cope – sê talle voorleggings wat teen die wysiging van die Grondwet gekant is, word nie behoorlik weerspieël nie in ’n konsepweergawe van ’n verslag wat die afgelope week voor die komitee gedien het.

Die 630 000 skriftelike voorleggings aan die komitee is verwerk deur Isi­lumko Staffing, ’n private personeelmaatskappy wat deur die parlement gekontrakteer is om deur die magdom skriftelike voorleggings te worstel. ’n Aanbieding daaroor aan die komitee was egter só swak dat dit eenparig verwerp is. Die komitee was onder meer ontevrede oor die feit dat Isi­lumko sowat 100 000 van die skriftelike voorleggings verwerp het as “dupliserings”, maar nie kan sê hoe hulle by dié syfer uitgekom het nie.

Die komitee het ook gevra dat parlementêre personeel self die skriftelike voorleggings verwerk en ’n verslag daaroor opstel, maar dis nie gedoen nie. Kommer heers ook dat daar nie meer genoeg tyd is om dit te doen voordat die parlement vir die einde van die jaar verdaag nie.

Komiteelede sê ook die skriftelike voorleggings wat in ’n kantoor in die parlement beskikbaar gestel is sodat parlementslede hulself van die inhoud kan vergewis, is nie volledig nie.

“Dit lyk asof dit net skriftelike voorleggings is wat per hand by die parlement afgelewer is. Voorleggings wat met e-pos gestuur is, is nie daar nie. En verreweg die meeste skriftelike voorleggings is met e-pos gestuur,” het Deidre Carter, Cope se verteenwoordiger in die komitee, gesê.

Humeure het Donderdag opgevlam toe die ANC-voorsitters van die komitee, Lewis Nzimande en Stanford Maila, die komiteelede probeer oortuig het om die konsepverslag te aanvaar sonder ’n ontleding van die skriftelike voorleggings.

Cope het sowat 120 000 van die skriftelike voorleggings in ’n verslag opgesom wat Carter by die komitee wou indien, maar Nzimande en Maila het haar verbied om dit te doen. Hulle het Carter trouens buite orde geroep toe sy noem dat meer as 60% van dié voorleggings ook teen ’n wysiging van die Grondwet gekant is.

Glynnis Breytenbach van die DA het ook gewaarsku teen die “ernstige gevolge” van ’n onvolledige verslag.

Sy sê sy het ook die skriftelike voorleggings in die kantoor wat daarvoor opsygesit is, deurgegaan.

Sy sê sy kon nie die voorleggings wat die DA per hand ingegee het, opspoor nie.

“Hierdie konsepverslag wat ons nou moet oorweeg, bevat geen noemenswaardige besonderhede oor die skriftelike voorleggings nie.

“Ek betwyfel die geloofwaardigheid van die konsepverslag wat betref die skriftelike voorleggings. As ons wil voldoen aan ons grondwetlike pligte, moet ons verstaan wat die skriftelike voorleggings bevat. Op die oomblik kan ons dit nie doen nie,” het Breytenbach gesê.

Volgens die konsepverslag is daar in die mondelinge voorleggings aan die komitee oorweldigende steun ten gunste van ’n wysiging van die Grondwet uitgespreek.

Josephine Mokwele, ’n EFF-lid in die komitee, het gesê die “wit lede” van die komitee probeer aanhoudend struikelblokke in die pad van die komitee lê om te keer dat die Grondwet gewysig word.

“Ek sal jou uitvat,” het sy in ’n stadium vir Carter gedreig.

Breytenbach het teen die dreigement beswaar gemaak, maar Mokwele het toe ontken dat sy Carter gedreig het.

Nog ’n twispunt was die nie-insluiting van die bevinding van Motlanthe se hoëvlakpaneel.

Verskeie van die komiteelede het gevra dat die verslag, wat ook voor ander komitees van die parlement dien, deur die grondwetlike hersieningskomitee oorweeg moet word.

Die twee voorsitters het egter volstrek geweier dat die komitee enigsins met die verslag werk.

Die komitee moet voor einde November sy finale verslag, wat moet aanbeveel of die Grondwet gewysig moet word, by die Nasionale Vergadering indien.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.