Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
Grond: SA sal nie soos Zimbabwe wees, sê Malema

Suid-Afrika sal nie weens die onteiening van grond sonder vergoeding soos Zimbabwe opeindig nie.

Dit is die versekering wat Julius Malema, EFF-leier, Maandag in ’n toespraak op sy party se agtste verjaarsdagvieringe gegee het.

“As mense Suid-Afrika gaan verlaat omdat ons die grond eis, tot siens. Jy is vry om te gaan. Niemand hou ’n vuurwapen teen jou kop nie. Maar jy sal terugkom, want ons gaan floreer,” het Malema gesê.

Volgens Malema, wie se toespraak sowat anderhalf uur geduur het, sal grondonteiening sonder vergoeding in Suid-Afrika sonder bloedvergieting plaasvind omdat dit op ’n grondwetlike manier sal geskied.

In dieselfde asem het Malema die ANC daarvan beskuldig dat hy “verraad” gepleeg het en beklemtoon dat die EFF geen afgewaterde wysiging aan art. 25 van die Grondwet sal ondersteun nie.

Sonder die EFF sal die ANC waarskynlik nie genoeg steun in die parlement kry om die 18de wysigingswetsontwerp rondom die Grondwet te kan deurvoer nie.

As mense Suid-Afrika gaan verlaat omdat ons die grond eis, tot siens. Jy is vry om te gaan. Niemand hou ’n vuurwapen teen jou kop nie. Maar jy sal terugkom, want ons gaan floreer.

Die ANC stel voor dat net sekere grond onder staatsvoogdyskap geplaas word en dat die howe daarvolgens steeds finale seggenskap sal hê.

Malema sê grond moenie primêr in private besit wees nie.

“Ons moet die grond sonder vergoeding onteien en ons moet seker maak dat die staat voogdyskap van die grond het. Dit sal net onder ’n EFF-regering gebeur, want die ANC het verraad gepleeg,” het Malema gesê.

Hy het ’n beroep gedoen dat die Suid-Afrikaanse Nasionale Weermag (SANW), wat weens die onlangse onluste in Gauteng en KwaZulu-Natal ontplooi is, moet onttrek omdat hy meen die Suid-Afrikaanse regering word nie deur ’n opstand in die gesig gestaar, soos pres. Cyril Ramaphosa gesê het, nie.

Malema meen die EFF is ’n “regering in afwagting” en dit is net ’n kwessie van tyd voordat hy die leisels as die regerende party in Suid-Afrika oorneem.

“Terwyl ander opposisiepartye fokus op spesifieke geografiese gebiede, is die EFF die enigste party wat die ANC op nasionale vlak kan uitdaag.”

Malema het daarop gewys dat doemprofete met sy stigting voorspel het dat die EFF sou sneuwel, maar hy het intussen gegroei tot die derde grootste politieke party in die land.

Een van die prioriteite is nou dat EFF-lede Marxistiese begrippe oordra aan mense vir wanneer die EFF oorneem.

Malema het ook kaalvuis onder die ANC ingeklim, onder meer weens sy beweerde magsmisbruike en omdat hy glo uit voeling is met die mense op voetsoolvlak.

“Die regering ná 1994 het die apartheidstaat voortgesit en ons mense is gereduseer tot stemvee. Die meerderheid ly in stilte in die hoop dat die toestande sal verander.”

Hy het verder onder meer ook die VSA veroordeel weens sy “neoliberale strategie wat die wêreld verwoes” en ’n beroep op China gedoen om ’n groter leidende rol in die wêreld te speel deur met Marxistiese lande saam te werk.

Meer oor:  Julius Malema  |  Eff  |  Onteiening
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.