Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
Grond: ‘Mashatile moet landswette gehoorsaam’

Al het Paul Mashatile, Gautengse LUR vir menslike nedersettings, na bewering verlede jaar die Olievenhoutbosch-gemeenskap buite Pretoria besoek en voorgestel dat die inwoners grond moet identifiseer wat in hul behoeftes kan voorsien, moet hy die landswette in ag neem.

Só sê Samkelo Mgobozi, woordvoerder van Solly Msimanga, burgemeester van die Tshwane-metro.

Stanley Chauke (37) kap ’n hoekpaal in die grond by Blue Hills naby Olievenhoutbosch buite Pretoria. Hy en sy neef Michael (44) het Maandagoggend vir hulle ’n erf uitgemerk op dié grond in private besit. Foto: Felix Dlangamandla

Dit kom nadat talle grondbesetters oor die naweek vir hulself erwe uitgemerk het in die Blue Hills-gebied naby Olievenhoutbosch.

“Ons respekteer hom (Mashatile), maar hy kan nie die funksies van die munisipaliteit oorneem nie. Ons volg ’n baie duidelike mandaat. Wat nou aan die gebeur is, is onwettig en onverantwoordelik.

“Die wetgewing móét gevolg word waarvolgens die metro sal bepaal aan wie grond toegeken moet word en aan wie nie.”

Peter Seolela, EFF-voorsitter vir wyk 106 (Mnandi en Olievenhoutbosch), het Maandag gesê die mense het die erwe uitgemerk om reaksie van die regering te ontlok omdat Mashatile skynbaar beloftes gemaak het toe hy die gemeenskap besoek het.

“Ons het die grond nou gevind, soos hulle versoek het. Nou moet die regering sy beloftes nakom en met die grondeienaars vergader om vas te stel of hulle hul grond wil verkoop. As die eienaars nie wil verkoop nie, sal ons die grond verlaat. Hulle moet egter hul beloftes nakom. Hulle (die regering) het die geld en die mag om dit te doen,” sê Seolela.

Hy sê 25 000 mense het hulle geregistreer om ’n erf in die gebied te kry, maar hulle is aangesê om nog geen strukture op te rig nie alvorens die regering daartoe ingestem het.

Seolela sê mense is aangemoedig om vir hulle eers ’n erf af te merk en skoon te maak voordat hulle enigsins begin bou.

“Die regering neem ons nie ernstig op nie en die enigste manier om hulle sover te kry om ons ernstig op te neem, is om na die grond te gaan en dit af te merk. Ons wou nie betoog nie, want dan beskadig ons die laaste goed wat ons het.”

Ons wetstoepassingsowerhede was vinnig daar om kennisgewings op die besetters te beteken dat hulle die onvoltooide hutte moet verwyder, maar die kennisgewings is geïgnoreer.

Michael Chauke (44), wat Maandagoggend saam met sy neef Stanley Chauke (37) ’n erf van 15 m by 20 m by Blue Hills afgemerk het, sê hy wil niemand pla nie en hy wag eers voordat hulle hul huise sal begin oprig.

“Ons is almal gelyk in die Here se oë. Ek wil met niemand baklei nie, veral nie met die mense wat voorheen hier gewoon het nie. As die polisie kom, wil ons met hulle gesels en ’n dialoog begin,” sê Chauke.

Volgens Mgobozi is die agterstand met die voorsiening van behuising in Tshwane nie uniek nie.

Hy sê Msimanga het verlede jaar ’n eenheid vir batebeskerming in die Tshwane-metropolisie tot stand gebring wat in samewerking met die departement van menslike nedersettings daaraan werk om die behuisingsagterstand te verlig en huise of grond aan die mense wat daarvoor kwalifiseer, uit te deel.

Tog het die metropolisie Maandag hutte wat onwettig in Hammanskraal en East Lynne opgerig is, vernietig.

“In nog ’n voorval het die grondbesetters plakkershutte in East Lynne opgerig. Ons wetstoepassingsowerhede was vinnig daar om kennisgewings op die besetters te beteken dat hulle die onvoltooide hutte moet verwyder, maar die kennisgewings is geïgnoreer. Die metropolisie het toe 180 strukture verwyder.”

Mgobozi sê nadat die onwettige strukture verwyder is, het gemeenskapslede oproerig geraak en strate in die omgewing versper.

Volgens hom moes die metropolisie rubberkoeëls gebruik om die oproerige skares uiteen te jaag.

Ons is daartoe verbind om ’n behuisingsprogram op die been te bring wat geleenthede op ’n duidelike en deursigtige wyse sal bied waarmee die behuisingskrisis in die hoofstad van die land volgens ’n regverdige en korrupsievrye proses getakel sal word.

Niemand is in hegtenis geneem nie.

“Dit is in hierdie stadium onduidelik of geld in onwettige transaksies van hande verwissel het. Ons raai die publiek aan om nie stukke grond van enigiemand te koop nie en om nie na mense te luister wat hulle aanmoedig om die grond te beset nie.

“Daar moet vir die toekoms beplan word om te verseker dat al die inwoners toegang tot basiese dienste en behuising in veilige gemeenskappe kry. Daarom kan ons nie die onwettige besetting van grond duld nie.”

Mgobozi het mense aangemoedig om die besetting van grond by die Tshwane-metropolisie aan te meld of by die naaste polisiekantoor.

“Ons is daartoe verbind om ’n behuisingsprogram op die been te bring wat geleenthede op ’n duidelike en deursigtige wyse sal bied waarmee die behuisingskrisis in die hoofstad van die land volgens ’n regverdige en korrupsievrye proses getakel sal word.

“Die wetstoepassingsowerhede sal voortgaan om die betrokke gebiede te monitor.”

Paul Mashatile se kantoor het nie op navrae reageer nie.

Meer oor:  Tshwane-Metro  |  Paul Mashatile  |  Pretoria  |  Olievenhoutbosch  |  Munisipaliteit  |  Gronddebat  |  Grond  |  Plakkers  |  Grondbesetting
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.