Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
Grond: Motlanthe waarsku oor ‘anargie’

As eiendomsregte nie beskerm word nie, sal dit ’n enorme impak op die Suid-Afrikaanse samelewing hê, het oudpres. Kgalema Motlanthe Donderdag gewaarsku.

Hy het in Pretoria gepraat op ’n bespreking oor ’n moontlike landbouontwikkelingsagentskap. Roelf Meyer, een van die onderhandelaars oor die Suid-Afrikaanse Grondwet, was die fasiliteerder van die bespreking.

Motlanthe sê dit is nie nodig om art. 25 van die Grondwet te wysig om onteiening in die openbare belang moontlik te maak nie omdat dit reeds daarvoor voorsiening maak.

“As eiendom nie beskerm word nie, vernietig jy waarde en as daar nie waarde is nie, kan die ekonomie nie vooruitgang maak nie. Mense sal nie tyd en hulpbronne belê in die opbou van bates nie.

“As jy mooi daaroor nadink, sal die samelewing soos ons dit ken verdwyn as eiendom nie deur die reg beskerm word nie. Dit is moeilik om jou in te dink watter soort anargie en chaos daarop sal volg.”

Art. 25 beskerm eiendomsregte en erken die behoefte vir die herstel van die regte van diegene wat daarvan ontneem is, sê Motlanthe.

“Dit erken dat die ongeregtighede van die verlede aandag moet kry en stipuleer hoe dit binne die grense van die reg en die Grondwet moet gebeur.”

Die grond-vraagstuk bly ’n bron van diep nasionale pyn vir swart Suid-Afrikaners weens ’n geskiedenis van ontneming, sê hy, maar voeg by dat die Grondwet grondhervorming en -restitusie magtig.

Indien restitusie en hervorming plaasvind sonder inagneming van die regte van grondeienaars, sal dit rampspoedige gevolge vir die Suid-Afrikaanse ekonomie hê, het Motlanthe gesê aan die kommersiële boere, opkomende swart kommersiële boere, banke en verteenwoordigers van verskeie landbou-organisasie wat die geleentheid Donderdag bygewoon het.

Die grond-vraagstuk bly ’n bron van diep nasionale pyn vir swart Suid-Afrikaners weens ’n geskiedenis van ontneming.

Motlanthe was in 2015 die voorsitter van ’n paneel wat deur die speaker van die parlement gevra is om die impak van wetgewing sedert 1994 te ondersoek. Die paneel het gevind dat grondhervorming en -restitusie gefaal het. Hulle het bevind die Grondwet is nie die rede vir die mislukking nie, maar wel die swak toepassing van beleid en ’n gebrek aan ’n gevoel van dringendheid in die regering.

Motlanthe het Donderdag gesê hy hoop die sesde administrasie sal die verslag heroorweeg nadat die vyfde administrasie “op ’n afdraaipad was” nadat die ANC se beleidskonferensie op ’n beleid van onteiening sonder vergoeding besluit het.

“Die paneel het bevind dit is onnodig om die Grondwet te wysig omdat art. 25 reeds voorsiening maak vir onteiening wat in die openbare belang is, en uiteensit hoe waarde bepaal moet word. Dit sluit in hoe die eiendom verkry is, waarvoor dit gebruik is en of verbeteringe aan die eiendom aangebring is.”

Meyer sê die doel van die beplande ontwikkelingsagentskap is om te verseker daar is ’n volhoubare en verenigde benadering tot grondhervorming en kommersiële voorspoed word vir gevestigde en opkomende boere geskep.

“Die agentskap moet twee duidelike doelstellings hê: Die bemagtiging van swart boere om suksesvol te wees en om vaardighede en kapitaal aan dié boere oor te dra.”

Hy sê die agentskap het die steun van verskeie landbou-organisasies asook die land se groot banke.

Hy sê die agentskap het die steun van verskeie landbou-organisasies asook die land se groot banke.

“Ons het met Thoko Didiza, minister van landbou en grondhervorming, vergader en hoewel ek nog nie kan sê dat ons die steun van die regering het nie, het sy aan ons riglyne gegee oor wat sy wil sien gebeur,” sê Meyer.

Pitso Sekhoto, voorsitter van Agri-sector Unity Forum, sê daar is ’n groot behoefte om die landbousektor te verenig. “En ek praat nie van die soort eenheid wat die ANC wil hê nie . . . ons moet saamstaan as ons die sektor vooruit wil neem.”

Chris Burgess, redakteur van Landbouweekblad, sê verreweg die meeste boere – “99%” – is gewillig en reg om ’n aktiewe rol in grondhervorming te speel. “Hulle wag net vir ’n teken. Dit is noodsaaklik dat die grondhervormingsproses slaag. Boere is van die mees oopkop- en laterale denkers in die land. Ek kan nie aan enige ander sektor dink wat ’n kwessie soos hierdie op dieselfde wyse sal benader nie,” sê Burgess.

Die megaboer Nick Serfontein, wie se brief aan pres. Cyril Ramaphosa verlede jaar soos ’n veldbrand versprei het, stem saam met Burgess: “Grondhervorming is moreel die regte ding om te doen, want dit is reg om grond terug te gee aan mense van wie dit sonder toestemming geneem is. Op maatskaplike vlak is dit reg omdat dit mense se waardigheid herstel. En ekonomies is dit reg, want suksesvolle grondhervorming sal die ekonomie ondersteun.”

Meer oor:  Kgalema Motlanthe  |  Grondwet  |  Anargie  |  Grond.
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.