Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
Grond: Nugter stemme wen

Die hersiene Onteieningswet wat Woensdag deur die kabinet goedgekeur is, is ’n aanduiding dat nugter denke besig is om te seëvier in die debat oor grondonteiening sonder vergoeding.

Pres. Cyril Ramaphosa. Foto: Felix Dlangamandla

Dié wetsontwerp – wat nou na die parlement moet gaan vir debattering en goedkeuring – stippel vir die eerste keer die spesifieke voorwaardes uit waaronder grond sonder vergoeding onteien kan word.

Die Onteieningswet is iets anders as die verandering van art. 25, die eiendomsklousule in die Grondwet, wat ook tans druk gedebatteer word.

Die Onteieningswet is ’n wet wat al sedert 1975 op die wetboek is en die prosesse en voorwaardes waarop grond deur die staat onteien kan word, uiteensit. Die hersiening van dié wet is reeds jare lank aan die kom – lank voordat die ANC en die EFF begin droom het van grondonteiening sonder vergoeding.

Volgens die nuwe konsepwet wat nog nie vir insae deur die publiek beskikbaar is nie, maar waarvan Rapport die afgelope week ’n afskrif gesien het, sal grondonteiening sonder vergoeding slegs in baie spesifieke gevalle moontlik wees.

Volgens die nuwe konsepwet, waarvan Rapport ’n afskrif gesien het, sal grondonteiening sonder vergoeding net in baie spesifieke gevalle moontlik wees.

Dit word uiteengesit in art. 12(3) van die voorgenome wet en maak dit duidelik dat “dit billik en regverdig (kan) wees om nul vergoeding te betaal waar grond in die openbare belang onteien word”.

Sulke gevalle “sluit in, maar is nie beperk” nie tot die volgende vyf voorbeelde:

  • Waar die grond bewoon of gebruik word deur ’n arbeider wat op die plaas woon, soos omskryf in die Wet op die Herstel van Grondregte. Die artikel is gemik op huurpagboere. Die regering meen daar is sowat 20 000 huurpag-gesinne wat al geslagte lank op plase in KwaZulu-Natal woon. Hierdie boere kwalifiseer in elk geval reeds sedert 1996 vir eiendomsreg van die grond waarop hulle woon en werk.
  • Waar die grond slegs vir “absoluut spekulatiewe” redes besit word. Dit is waarskynlik een van die mees omstrede kategorieë in die wetsontwerp.
  • Waar die grond besit word deur ’n maatskappy in staatsbesit of enige ander entiteit in staatsbesit.
  • Waar die grondeienaar die grond prysgegee of verlaat het.
  • Waar die markwaarde van die grond gelykstaande of minder is as die huidige waarde van regstreekse staatsbelegging of -subsidie vir die aankoop of voordelige kapitaalverbetering van die grond.

Die proses om die Onteieningswet van 1975 te vervang het reeds in 2015 begin en ’n vorige weergawe is reeds deur die parlement aanvaar en sou vanjaar van krag geword het.

Dis egter in Augustus deur die minister van openbare werke, Thulas Nxesi, teruggetrek juis sodat dit gestalte kan gee aan ’n nuwe art. 25 van die Grondwet. Daarom is dit die duidelikste aanduiding nog van pres. Cyril Ramaphosa se standpunt hieroor.

Annelize Crosby, regs- en beleidsadviseur van Agri SA, sê die konsepwet is voor die terugtrekking daarvan deur ’n deeglike openbare deelnameproses en die meeste rolspelers was redelik tevrede daarmee.

Die nuwe weergawe wat Woensdag deur die kabinet goedgekeur is, is feitlik onveranderd van die vorige, afgesien van die byvoeging van die artikel oor onteiening sonder enige vergoeding.

’n Senior ANC-bron met eerstehandse kennis van die proses, het die afgelope week aan Rapport gesê dis ook belangrik om daarop te let dat die konsepwet net betrekking het op grond.

“As daar enige geboue op die grond staan, moet die eienaar steeds daarvoor vergoed word. Net die grond waarop die gebou staan, kan sonder vergoeding onteien word.”

Daar is waarskynlik te min tyd om dié wet voor die algemene verkiesing op die wetboek te kry.

Die nuwe wetsontwerp is deur die kabinet aanvaar in dieselfde week wat die ANC ’n voorstel dat die Grondwet gewysig moet word, deur die parlement gestoomroller het.

Die strydlustige uitsprake van die EFF-leier, Julius Malema, laat egter al hoe meer twyfel of die EFF bereid sal wees om enige afgewaterde grondwetwysigings te steun. En sonder die EFF se steun is geen grondwetwysiging moontlik nie omdat die ANC alleen nie oor die nodige tweederde-meerderheid beskik nie.

Malema het Dinsdag gesê die EFF staan vierkant by hul standpunt dat grond genasionaliseer en deur die staat bestuur moet word. Hy sê hy weet daar is mense in die EFF wat met die ANC wil onderhandel hieroor, maar hulle sal eers van hom as EFF-leier ontslae moet raak voordat dit kan gebeur.

Hierop het die ANC-hoofsweep, Jackson Mthembu, Vrydag op ’n mediakonferensie geantwoord dat die ANC nie sal toegee oor die nasionalisering van grond nie.

“Ons is nie die EFF nie. Ons verskil met hulle oor grond en ons maak gereed vir ’n groot stryd met hulle oor die grondkwessie.”

Mthembu het voorts daarop gesinspeel dat die ANC slegs die moontlikheid van ’n nulwaarde (onteiening sonder vergoeding) in die Grondwet wil inskryf as ’n moontlikheid tussen verskeie moontlikhede. In dié scenario sal die hof die arbiter bly oor wat billike en regverdige vergoeding in elke geval behels.

Hoewel daar dus aanduidings is dat die gematigde ANC-parlementslede die oorhand kry en dat daar hoop vir die land se grootse grondeienaars is, het die vurige voorstanders van onteiening sonder vergoeding nog nie heeltemal gaan lê nie.

Volgens ’n senior lid van die regering is daar steeds kwaai druk uit ’n sterk faksie binne die ANC wat onverbiddelik is daaroor dat die Grondwet nog voor die verkiesing gewysig moet word.

“Dit kan gebeur dat drastiese stappe ná die parlementsopening in Februarie gedoen word om ’n wysiging deur te druk,” het Rapport se bron gesê.

Talle ANC-parlementslede, insluitende die ANC-hoofsweep, glo dat dit totaal onprakties en onmoontlik is. Niks het die tweespalt binne die ANC hieroor egter beter geïllustreer as die luidrugtige en bykans rassistiese optrede van sommige ANC-lede wat hulle amper openlik by die EFF geskaar het in Dinsdag se debat nie.

Anchen Dreyer, voorsitter van die DA-koukus, sê in reaksie die groep se gedrag is ontstellend en “laat ’n slegte smaak in die mond”.

Meer oor:  Jackson Mthembu  |  Grondwet  |  Grondbeleid  |  Grondondeiening
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.